‘Ons wens die see gee sy liggaam terug’: Leerder (9) verdrink

Moegamat Kamaar, ’n leerder aan die Laerskool Belhar, is deur branders van die rotse af geslaan en hy het in die see verdwyn.

Credit: SYSTEM

Die familie van die kind wat verlede week van die rotse by Sandybaai geslaan is en in die see verdwyn het, sê hulle hoop die see gee sy liggaam terug.

Die 9-jarige Moegamat Kamaar was op ’n uitstappie met sy pa, Rubin du Preez, en nog ander mense toe hy voorverlede Sondag op die rotse gespeel het.

’n Groot brander het hom afgeslaan. Hy het in die see beland en ten aanskoue van sy pa in die water verdwyn.

Teen druktyd is sy liggaam nog nie gevind nie.

Du Preez sê die hele voorval speel oor en oor in sy kop af.

“Ek het vir Balie (Moegamat se bynaam) en ander kinders berg toe geneem vir ’n uitstappie. Ons besluit toe om sommer ’n draai by die see ook te gooi.

“Dit het net begin hooggety raak toe ons daar kom en ek het net gesit toe die brander hom afslaan. Hy kon nog nie goed swem nie.”

“Dit is baie swaar, want die ding draai in my kop. Dit speel soos ’n fliek in my kop af,” sê Du Preez.

Hulle het Moegamat grootgemaak vandat hy amper een was.

“In daardie stadium was hy nie baie gesond nie en het hy nie groente geëet nie. Hy was nou baie gesond en lief vir sy groente. Hy was baie sterk en het begin mooi leer in die skool,” sê Du Preez.

Hulle hou vandeesweek ’n gedenkdiens op die plek waar Moegamat die see in is.

“Die minste wat ons verwag is dat die see sy liggaam vir ons teruggee. Dit is nou al so lank, maar ons soek net sy liggaam. Ek hoop nog,” sê hy.

Moegamat was ’n leerder aan die Laerskool Belhar. Die skool het in ’n verklaring sy hartseer oor sy ontydige heengaan uitgespreek.

“Die opvoeders, personeel en bestuur van die skool wil medelye met die familie uitspreek. Ons hou hulle in ons gebede,” lui die verklaring.

Die skool het ook ’n beroep op die gemeenskap gedoen om nie-bederfbare produkte by die skool af te laai om die familie by te staan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article