‘Ons voel verraai’: Gemeenskap steeds geskok ná tiener ander een vermoor

Naeema Marshall (14) was ’n gr. 9-leerling aan die Beacon Hill Secondary School. Foto: Facebook/Naeema Marshall


Die gemeenskap van Kleinvlei in Eersterivier is steeds in skok ná die skietdood van ’n 14-jarige meisie verlede week.

Naeema Marshall van Beacon Valley in Mitchells Plain, wat by haar familie gekuier het, is na bewering deur ’n 15-jarige seun doodgeskiet omdat sy nie in hom belanggestel het nie.

Hubert Kemp, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê die hele situasie is so brutaal en onnodig en dat haar dood baie voortydig is.

“Sy was in die fleur van haar lewe en het nog baie drome vir die toekoms gehad. Haar ouers het ook drome vir haar gekoester en nou word sy so wreedaardig vermoor,” sê Kemp.

Wat vir Kemp die meeste grief is hoe maklik die seun ’n vuurwapen in die hande kon kry.

“Hoekom is dit so maklik dat ons jongmense vuurwapens of enige ander wapen in die hande kry? Wat dryf ’n jong seun om iemand koelbloedig te vermoor?

“Ek weet nie hoe ons gemeenskap hier beland het nie, maar ons kan nie so aangaan nie, want niemand wen nie. Een kind het haar lewe verloor en die ander het sy lewe weggegooi,” sê Kemp.

Volgens hom rou die gemeenskap van Eersterivier saam met die ouers van die oorledene.

“Ons voel verraai deur die hele aangeleentheid, want die ouers het die kind hierheen gestuur in die geloof dat sy veilig sal wees. Daar moet hulle haar nou begrawe.

“Die gereg moet sy gang gaan en ons kan net hoop dat geregtigheid geskied. Ons wonder tog of die skieter berou gaan toon en of die stelsel hom gaan faal of gaan help. Gaan hy as ’n beter mens ander kant uitkom of gaan hy as ’n groter misdadiger uitkom as wat hy was toe hy ingaan? Ons kan net wonder,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article