Onderwyser gesteek in haar klaskamer by laerskool in Bonteheuwel

Polisiebeamptes met die gesteelde goedere wat hulle teruggekry het. Van links is konst. Seravon Jooste, konst. Lezaun Louw, konst. Courtney Plaatjies en sers. Randall Plaatjies.

Credit: SYSTEM

Beskerm asseblief ons skole.

Dit is die pleidooi van die gemeenskap van Bonteheuwel nadat ’n onderwyser verlede week in haar klaskamer by die Laerskool Arcadia voor leerders met ’n mes aangeval is.

Die 53-jarige onderwyser was besig om vir haar gr. 2-klas les te gee toe die aanvaller oor die heining spring, by die oop klasdeur inhardloop en haar aanval.

Volgens die plaaslike raadslid Angus McKenzie was hy onderweg na die skool vir ’n vergadering en het minute ná die voorval daar opgedaag.

“Dit lyk asof die onderwyser nog met die aanvaller gestoei het voor hy haar selfoon gegryp en laat spaander het. Ek het dadelik die polisie en wetstoepassers gekontak en hulle het die aanvaller gaan soek. Ons het die 30 leerders in die biblioteek bymekaar gebring, waarna ons hul ouers versoek het om hulle te kom haal,” sê McKenzie.

McKenzie sê veiligheid by die skool is eintlik baie goed.

“Die aanvaller het oor ’n hoë heining gespring. Hierdie is beslis ’n geïsoleerde en opportunistiese voorval. Ek hoop van harte die aanvaller word so gou moontlik aangekeer. Ons, as ’n gemeenskap, moet asseblief ons skole beskerm,” sê McKenzie.

In ’n onverwante voorval is daar onlangs by die Hoërskool Bonteheuwel ingebreek en ’n groot hoeveelheid goedere gesteel.

Volgens sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, het die polisie ’n anonieme wenk ontvang en het die polisie die inligting opgevolg.

“Lede van die Bishop Lavis-polisie en die misdaadbekampingseenheid het die inligting opgevolg. ’n Onderwyser van die skool het van die gesteelde goedere geïdentifiseer en ’n 31-jarige man is weens die besit van gesteelde goedere in hegtenis geneem,” sê Adonis.

Sy het ook ’n beroep op die gemeenskap gedoen om die polisie te help om misdaad by en teen skole te bekamp.

“Met die hulp van die gemeenskap kan ons ons skole beskerm,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article