kanonkop
Twee lede van die Vriende van Bracken-natuurreservaat staan op Kanonkop.

Aan die rant van die destydse seinheuwel Kanonkop, in die noorde van die stad, lê `n klein natuurlike juweel, nog onaangeraak deur die versmorende ontwikkeling in Kaapstad.

Dié biodiverse 36 ha Bracken-natuurreservaat – tussen Brackenfell en Kraaifontein – bied `n veilige habitat waar krities bedreigde plantspesies voortbestaan. Dit was dan ook die middelpunt van vieringe van Wêreldomgewingsdag verlede Donderdag in Brackenfell.

“Op dié dag elke jaar word mense aangemoedig om te dink aan die waarde van die omgewing – wat dit vir ons beteken en hoe ons dit kan beskerm, veral in die hartjie van die stad,” sê André Vermeulen, voorsitter van die Vriende van Bracken-natuurreservaat. Om die dag te vier, het hy `n klein groepie mense op `n uitstappie deur die reservaat gelei om die verskillende plante en diere uit te wys.

In `n gesprek met TygerBurger benadruk Vermeulen die belangrikheid van omgewingsbewaring in `n metropool soos Kaapstad.

“Die Bracken-natuurreservaat is `n klein ekosisteem waarin honderde soorte plante en diere, waarvan sommiges baie skaars is, voorkom.

“As inwoners moet ons seker maak dat dié spesies hier kan voortbestaan sonder menslike versteuring of vernietiging,” sê Vermeulen..

Nie net is die omgewing belangrik vir ons wat betref natuurlike hulpbronne soos kos, water, medikasie en boumateriaal nie, maar ook vir ontspanning om aan die besige stadslewe te ontsnap. Elke plant en dier in die ekosisteem maak staat op mekaar en die omgewing in voedselkettings wat soos `n legkaart onvolledig sal wees indien een deel weggeneem word,” sê hy.

Die reservaat bestaan ​​hoofsaaklik uit Swartland-graniet-renosterveld en Kaapse Vlakte-sandfynbos, plantegroeisoorte wat oor die algemeen swak bewaar word.

Vermeulen sê meer as 300 plantspesies en talle klein diersoorte word in die reservaat gehuisves.

“Natuurliefhebbers kan uitkyk vir grysbokke, muishonde, vlakhase en kleinkolmuskeljaatkatte. En as jy mooi kyk, sien jy dalk `n Kaapse dwergverkleurmannetjie of `n rooipensskilpad,” sê hy. Ook die voëllewe floreer met spesies soos die blouvalk, swerfvalk, Kaapse fisant, suikerbekkies en muisvoëls.

Stadsreservate soos Bracken speel ook `n belangrike rol daarin om die gehalte van die stadslug te verbeter en die temperatuur in “stedelike hitte” te reguleer.

Tydens die uitstappie is ook op die ryk geskiedenis van die gebied gefokus, wat so herinner aan die Skotse landskap met sy welige varings dat die Skotse immigrant George Henry Walton die land in 1901 “Bracken” (varing) “fell” (heuwel) gedoop het.

Honderde jare tevore, in die 1700’s, was daar `n kanon op die heuwel wat vir militêre doeleindes gebruik is om boere te waarsku. Die kanon is in 1806 vir die laaste keer afgevuur met die Slag van Blaauberg toe die Britte die Kaap vir die tweede keer ingeval het, vertel hy.

`n Granietsteengroef is tussen 1950 en die vroeë 1970’s op die heuwel bedryf, waarna dit in `n stortingsterrein omgeskep is. Die Bracken-natuurreservaat is in die laat jare 70 as `n kern botaniese terrein geoormerk.

Die Vriende van Bracken is in 2006 gestig en in 2013 is `n “ses-ponder”-kanon aan Bracken deur die Tygerberg-natuurreservaat geskenk vir historiese doeleindes. Aangrensend is Perdekop, ‘n 2,2 ha satelliet-natuurreservaat wat deel vorm van die groter reservaat.

Teen volgende jaar, sê Vermeulen, sal die nuwe volhoubare ongewingsentrum, waaraan nou gebou word, ook sy deure in die reservaat open.

“Die sentrum, wat jare al beplan word, sal gebruik word vir byeenkomste om natuurbewaring te bevorder,” sê hy.

Hy moedig inwoners aan om elk hul deel te doen om die omgewing te bewaar.

Een van die skatte in die Bracken-natuurreservaat is die Kraaifontein-spinnekopbos. Die plant is kritiek bedreig aangesien dit net in die Bracken-natuurreservaat en by ‘n skool in Northpine voorkom. Daarom speel die reservaat ‘n groot rol in die oorlewing van die spesie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article