Die oefengroep by die Blue Downs-swembad sal nou eers ’n blaaskans vat, maar hulle gaan in die lente weer volstoom voort.
Koby Michaels, die leier van die groep wat mense uit hul huis en aktief wil kry, sê die snerpende winter het hulle laat besluit hulle moet eers ’n ruskans neem.
“Die groep het die laaste seisoen aansienlik gegroei en toe weer afgeplat tot net ’n kerngroep oorgebly het. Hierdie kerngroep het so gegroei dat ons vandag soos familie voel,” sê Michaels.
Die groep gebruik die Blue Downs-swembad as hul basis en doen meestal oefeninge in die water.
“Van hierdie mense het nog nooit aktief oefening gedoen nie en is nie meer so jonk nie, maar hul entoesiasme is aansteeklik. Van hulle voel die oefeninge het regtig hul lewens verander en hulle is spyt dat hulle nou eers ’n rukkie moet stop,” sê Michaels.
Van die oefeninge sluit in asemhalingsoefeninge, aërobiese oefeninge, swemopleiding en hoe om te oorleef as jy per ongeluk in die water val.
“Sodra die winter verby is, gaan ons weer bymekaar kom en ek hoop meer mense kan by ons aansluit. Dit is nie nodig om elke dag by die huis te sit en niks doen as jy kan oefen en nuwe vriende maak nie,” sê Michaels.
- Bel Michaels by 083 417 7995 indien jy later vanjaar by die groep wil aansluit.





