Van links staan Corinne Alexander (onderwyser), Quentin Johnson (skoolhoof), Sunelle Williams (voorsitter: biblioteekkomitee), Vernon Koen (biblioteekdiensbeampte van die Metro-Oos-onderwysdistrik), Shanon Tobi en Tinille Visagie (onderwysers).

Credit: cr

Die 1 414 leerders van die Laerskool Blackheath het nou toegang tot ’n aparte skoolbiblioteek.

Hoewel die skool se nuwe geboue, wat twee jaar gelede voltooi is, twee multimedia-klaskamers insluit, dien die vertrekke as rekenaarsentrums. Die biblioteek is nou ingerig in ’n opslaangebou, wat eens as klaskamer gebruik is.

Die ontstaan van die skoolbiblioteek spruit uit die onderwysers se pogings om leerders se liefde vir lees aan te wakker, sê Sunelle Williams, onderwyser aan die stuur van die skool se biblioteekkomitee.

Aan die begin van die jaar het die skool ’n donasie van 150 leesboeke ontvang van Biblionef, ’n organisasie sonder winsbejag wat opvoedkundige boeke in al 11 amptelike tale versprei. Die boeke is gevoeg by ander leesboeke, wat alreeds in die skool se besit was.

“Op Donderdag 24 Maart kon ons biblioteek se deure amptelik open,” sê Williams.

Quentin Johnson, skoolhoof, het die eer gehad om die rooi lint by die opening te knip. Johnson, wat in sy toespraak daarop gewys het dat toegang tot biblioteke in die apartheidsjare baie beperk was, het die leerders aangemoedig om ten volle van die skoolbiblioteek gebruik te maak.

Vernon Koen, biblioteekdiensbeampte van die Metro-Oos-onderwysdistrik, het as eregas die spesiale dag saam met die skool gevier.

Leerders van gr. R tot 7 sal nou die biblioteek saam met hul klasonderwysers kan besoek om nuwe wêrelde deur middel van boeke te ontdek.

Williams sê die assistente wat deur die onderwysdepartement by die skool geplaas is, het ’n groot bydrae gelewer om saam met die biblioteekkomitee die opening van die biblioteek moontlik te maak.

“Met die hulp van hierdie assistente sal daar elke periode, asook pouses, ’n geleentheid wees vir leerders om die skoolbiblioteek te besoek.”

Williams sê ’n goedhartige ouer met kontakte by die parlement het onlangs boeke en plakkate oor menseregte vir die biblioteek geskenk.

Skenkings is welkom. Gebruikte tydskrifte of koerante sal ook waardeer word, sê Williams.

Kontak Williams by 072 573 1821 of per WhatsApp by 062 580 9496 as jy boeke, tydskrifte of koerante wil skenk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article