As jy een van die gelukkige 8 000 atlete is wat ’n inskrywing vir vanjaar se Radio Tygerberg 104FM se TygerRun/Walk kon kry, kan jy uitsien na ’n wonderlike oggend van hardloop en stap op Saterdag 21 Maart.
Die TygerRun/Walk bied twee afstande – ’n 15 km- en ’n 6 km-roete. Die 6 km is ideaal vir stappers en sommer ’n lekker geleentheid vir die hele gesin wat wil deel in die dag se pret.
Die 15km-wedloop se roete is vanjaar effens aangepas. Atlete kan ’n paar ekstra bulte verwag, maar die roete gaan ook deur die pragtige Kenridge-woonbuurt, waar baie van die strate lekker skaduwee bied – ’n welkome bonus vir deelnemers.
Inwoners van Kenridge word ook vriendelik gevra om kennis te neem van veranderings in verkeersvloei op die oggend van die wedloop.
Roeteverandering van die 15 km
Die TygerRun se 15km-roete gaan vanjaar effens anders lyk, met twee veranderings aan die roete wat in die verlede gehardloop is.
Die gedeelte wat voorheen van Kerkstraat om die Hoërskool Durbanville gegaan het via Langenhoven-, Vissershok- en St. Johnstraat na Hoogstraat, val weg. Hardlopers sal vanjaar aanhou met Kerkstraat, verby die sirkel en links draai in Aandblomstraat. Die roete gaan dan links in Dagbreeklaan en regs in Suikerbosstraat voordat dit weer by die bestaande roete in Kenridge aansluit.
Daar word ook ’n nuwe gedeelte in Kenridge by die roete gevoeg van die T-aansluiting aan die einde van Franschhoekstraat.
Atlete word aangemoedig om vooraf die roetekaart op die Durbanville-atletiekklub en Top Events se webwerwe te bestudeer. Besoek gerus durbac.org.za of topevents.co.za vir meer inligting.
Die wedloop begin en eindig by die Tygervallei-winkelsentrum. Die 15km-wegspringtyd is om 06:45 en die 6km- wegspringtyd om 07:15.
Atlete word versoek om op die dag van die wedloop vroeg te arriveer aangesien sekere roetes in die omgewing gesluit sal wees en daar beperkte parkeerplek is. Die organiseerders stel voor dat deelnemers eerder probeer om saam te ry.
Resiesnommers kan op Vrydag 20 Maart afgehaal word by die afhaalpunt wat deelnemers op hul inskrywingsvorm aangedui het van 10:00 tot 18:00. Deelnemers wat gekies het om hul nommers by Tygervallei-winkelsentrum se Food Court af te haal, kan kom inloer by Radio Tygerberg 104FM se buite-uitsending wat die hele dag regstreeks van die sentrum gaan uitsaai.
“Ons is baie trots dat die Radio Tygerberg TygerRun/Walk oor die jare gegroei tot een van die gewildste, asook die grootste wedloop in die noordelike voorstede, en vanjaar se byeenkoms beloof weer ’n fantastiese atmosfeer vir hardlopers, stappers en toeskouers. Wedlope soos hierdie wat ook deel uitmaak van WP-atletiek se kalender is net moontlik met waardevolle vennote soos die Durbanville-atletiekklub, Top Events, Tygervallei-winkelsentrum en TygerBurger,” het Rikus van Rooy, stasiebestuurder, gesê.
Hardloop vir ‘n goeie doel
Vanjaar se wedloop is ten bate van die Animal Anti-Cruelty League (AACL) se takke in Bellville en Epping.
“Die Tyger Run/Walk gaan oor meer as net hardloop of stap – dit gaan oor gemeenskap en die verskil wat ons met ons optrede kan maak. Ons is baie dankbaar vir elke deelnemer wat help om vanjaar ’n verskil te maak vir die Animal Anti-Cruelty League,” sluit Van Rooy af.





