Die splinternuwe Afrikaanse skrywersorganisasie, Asem 01, hou eerskomende Saterdag ’n poësie-voorlesingaand, wat met musiek gepaardgaan.

Die skrywer Elias P. Nel, een van die stigters van die organisasie, sê die organisasie is gestig om ’n platform vir opkomende skrywers te skep.

“Daar is so baie skrywers wat nooit die geleentheid kry om hul werke voor ’n gehoor voor te dra nie. Met hierdie platform wil ons nuwe en opkomende skrywers blootstel en hulle ook die geleentheid bied om te wys wat in hulle steek,” sê Nel.

Volgens Nel is die poësie-aand, bekend as Lipklap en Note, net die eerste in ’n reeks projekte wat Asem 01 gaan aanpak.

“Ons wil ook daarop fokus om slypskole by laer-en hoërskole te hou om kinders se liefde vir Afrikaans te ontgin en uit te bou. Daar is so baie mense wat net wag vir die regte platform om te wys wat in hulle steek. Ons moet hierdie taal van ons by die jeug lewendig hou en so sal dit aanhou groei,” sê Nel.

Die voorlesing vind tussen 10:00 en 14:30 by die La Vigné House in Windellstraat in Durbaville plaas.

Om te bespreek, stuur ’n WhatsApp-boodskap na 072 482 8033 of e-pos na eliasp.nel@gmail.com. Gaste kan ’n eet-of drinkdingetjie saambring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article