Van links is konstt. Tshepo Ngwenya, Denzley Smith, Lance Swarts en Quinton Steynberg, wat gehelp het om ’n 28-jarige man vir besit van dwelms aan te keer.

Credit: cr

Altesame 14 nuwe konstabels het in Desember by die Kuilsrivier-polisie aangesluit en sommer vroeg reeds ’n paar skelms aangekeer.

AO Liesel Beukes, plaaslike polisiewoordvoerder, sê die nuwelinge, afkomstig van verskillende polisiekolleges, is ná hul eerste parade op Woensdag 13 Desember toegewys om patrollering by winkelsentrums in die omgewing te doen.

Van links is konstt. Tshepo Ngwenya, Denzley Smith

Van links is konstt. Tshepo Ngwenya, Denzley Smith, Lance Swarts en Quinton Steynberg, wat gehelp het om ’n 28-jarige man vir besit van dwelms aan te keer.

Op Dinsdag 19 Desember omstreeks 15:00 het vier van die nuwe konstabels op patrollie naby die Food Lovers Market in Carinusstraat bewus geword van ’n onderonsie in die parkeerterrein tussen winkelpersoneel en vyf insittendes van ’n grys Volkswagen Polo Vivo.

Beukes sê die winkelpersoneel het die konstabels ingelig dat die insittendes na bewering goedere uit die winkel gesteel het.

“Terwyl hulle besig was (om met die insittendes te praat) het ’n vrou uit die voertuig gespring en probeer weghardloop, maar sy is deur een van die konstabels aangekeer.

“Die konstabels het die voertuig deursoek en drank, kos, groente, koeldrank en braai-brikette in die kattebak gevind, waarvoor die insittendes geen strokie kon wys nie.”

Beukes sê volgens die klaer van die winkel het die volwassenes twee kinders gebruik om die goedere met ’n trollie uit die winkel te neem.

“Al vyf insittendes – twee vroue (onderskeidelik 28 en 58 jaar oud), ’n man (22) en twee kinders (12 en 14) – is in hegtenis geneem weens winkeldiefstal.”

Die waarde van die goedere is ongeveer R3 200.

Van links is AO Andre Hough, konstt. Stuart Williams, Claire Ketelso en Mkuhuli Mfunda, wat gehelp het om winkeldiewe aan te keer, by AO Andries Binedell.

AO André Hough en AO Andries Binedell, wat aangewys is om die nuwelinge in die veld touwys te maak, het die konstabels met die inhegtenisnemings en amptelike dokumentasie gehelp, sê Beukes.

Kol. Jayce Naidoo, stasiebevelvoerder, het die span met die suksesvolle uitvoer van hul pligte gelukgewens.

Beukes sê op Woensdag 20 Desember om 12:00 het vier van die nuwe konstabels op voetpatrollie in die sakekern ’n transaksie tussen twee mans agter die Oostenberg Lodge in River Park raakgesien.

“Toe die konstabels die mans nader, het albei begin hardloop. Die konstabels kon die een verdagte aankeer, maar in die proses het die verdagte daarin geslaag om ’n deurskynende plastieksakkie oor ’n heining in die nywerheidsgebied te gooi.

“Die konstabels kon toegang tot die perseel kry, waar hulle die plastieksakkie met tik daarin, met ’n geskatte straatwaarde van R700, gevind het.”

Beukes sê dagga en ’n mes is ook in besit van die man gevind toe hy deursoek is.

“Die 28-jarige man is in hegtenis geneem vir die besit van dwelms en ’n gevaarlike wapen. Hy het op 22 Desember in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article