Christine Bam FOTO: Niel Roux


In September het Christine Bam van Kuilsrivier, ’n operastudent aan die Universiteit van Kaapstad (UK), een van die hoofrolle in Opera UK se produksie van The tales of Hoffmann gesing.

Eersdaags vertolk sy nog ’n hoofrol as Flora in La Traviata, wat van 26 tot 29 Oktober in die Kunstekaap-teater uitgevoer word. Bam sal op 26 en 28 Oktober op die verhoog wees.

Bam vertel haar eerste rol in ’n opera was as “The Spirit” in Dido and Aeneas by die Universiteit Stellenbosch in 2012, onder direksie van Michelle Breedt. “Ek was ’n tweedejaar- B Mus-student. Al was ek ’n groentjie, was die geleentheid om van Breedt te kon leer ’n groot eer.”

Sy was ook by verskeie kleiner produksies betrokke tydens haar studies, sê Bam. Nadat sy gestudeer het, moes sy werk vind en het by onderrig betrokke geraak. ”Ek het gehelp om ’n sukkelende musiek-afdeling by ’n hoërskool op te bou en ’n koor by die skool begin.”

Rolle

In 2017 het Bam deur Opera Omnia een van die kleiner rolle in ’n herskepping van die verlore Monteverdi-opera Arianna in Moskou, Rusland, gesing. “Dit was mal. Ek is ’n week voor die optrede vir die rol gekies en moes baie vinnig leer. Die meerderheid van die rolverdeling was Russies en ek het iemand nodig gehad om tydens die repetisies vir my te vertaal. Dit was ’n interessante ervaring.”

Kort daarna het sy haar eerste ad hoc-kontrak met Kaapstad Opera gekry as deel van die ensemble vir optredes van hul Grace Notes-program.

“Dit het daartoe gelei dat ek ’n kontrak aangebied is vir Porgy and Bess in Suid-Korea, onder direksie van Christine Crouse. Ek was ’n non in die koor!”

Dit is gevolg deur ’n uitnodiging om ’n koorlid vir die Kaapstad Opera-produksie van Maria Stuarda te wees.

“Daarna is ek ’n permanente kontrak aangebied,” sê Bam.

In 2020 het sy in ’n gesamentlike produksie van Kaapstad Opera en die UK vir die rol van Dorabella in Così fan tutte voorberei.

“Die optrede was in die Baxter-teater. Ek moes uiteindelik inderhaas vir die rol van Fiordiligi leer in die studente-optrede.”

In 2022 het sy Anna Staal in Sara Baartman, die opera en die rol van Bradamante in Alcina gesing in die gesamentlike Kaapstad Opera- en UK-produksies.

”Albei produksies was ongelooflik om aan te werk – Sara Baartman vir die insig wat ons eerstehands van die komponis gekry het, en Alcina het my tot my uiterstes gedruk, wat die verhoogproduksie sowel as my stem, betref.”

Die rol van Nicklausse in Les contes d’Hoffmann was vir haar ’n loopbaan-hoogtepunt. “Die geleentheid om van Jeremy Silver en Steven Stead te leer, het my oë vir soveel nuwe idees oopgemaak. Ek het regtig gegroei tydens die produksie – op die verhoog, maar ook in die repetisiekamer. Dit sal vir seker altyd een van my mees memorable operas bly.”

Oor haar eerste verskyning ooit in La Traviata sê Bam dit is vir haar ’n eer om Flora te kan speel saam met ’n fantastiese rolverdeling.

“Dit is nog meer spesiaal omdat ek kan werk saam met van my koor-kollegas wat my al so ongelooflik baie ondersteun het.”

Wou altyd sing

Sover sy kan onthou wou sy nog altyd ’n sangeres gewees het. “Miskien het die prentjie so effens verander deur die jare: ’n sanger, toe ’n singende dokter, of ’n singende onderwyser, maar sing was nog nooit uit die prentjie nie.”

As kind was haar eerste mikpunt om ’n lid van die hoog aangeskrewe Tygerberg-kinderkoor onder leiding van Hennie Loock te word.

Daarna volg ’n beurs by die Hoërskool Stellenberg, waar sy vir die skool se meisieskoor, asook die Suid-Afrikaanse Jeugkoor, albei onder leiding van André van der Merwe, gesing het.

“Ek het altyd geweet ek wil musiek studeer. Dit was dalk ’n bietjie moeiliker om my ouers te oortuig, maar ek wou nie die droom wat ek sedert ek kan onthou in my kop gehad het, laat vaar nie.”

Nadat sy haar B Mus met cum laude aan die Universiteit Stellenbosch behaal het, het sy ook sangklasse by Hanna van Schalkwyk ontvang.

“Ná my permanente aanstelling by Kaapstad Opera het ek besluit die tyd is reg om my nagraadse studie by Opera UK te doen.”

Bam sê die ondersteuning by Opera UK is uitstekend. “Die lektors en afrigters stap daardie ekstra myl saam met jou.”

Kaartjies vir La Traviata is by Computicket beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article