Die samewerking tussen Goodwood Armed Patrols (GAP), Glenwood-buurtwag en die gemeenskap het Vrydagoggend ’n nuwe era ingelui.
Hierdie gemeenskap spog nou met elektriese heinings bo-op ’n eens geteisterde muur.
Verlede Vrydag omstreeks 08:45 het ’n tegniese span van GAP inbeweeg en begin met die installering van die elektriese heining bo-op die muur, wat reggemaak is nadat dit deur haweloses afgebreek is.
“Die installering was harde werk; dit het die manne heel Vrydag – van 08:45 tot 18:30 – geneem, maar dit is getoets en werk heel goed, is sonder probleme en dit lyk heel vreeslik mooi. Dit gaan beslis help teen die mense wat so oor die muur gespring het,” sê Jas Visser, ondervoorsitter van die Glenwood-buurtwag.
“Hierdie installering, met kragvoorsiening deur ’n inwoner, sal beslis bydra tot ’n veiliger woonbuurt.”
Veiliger gemeenskap
Volgens die Glenwood-buurtwag is hulle verheug oor die voltooiing van hierdie projek.
“Die beveiliging en verfraaiing van die muur in Yellowwoodsingel in Glenwood stoom voort.”
Visser beskryf hierdie gebeure as ’n verdere era in hierdie reeds sterk verhouding tussen Goodwood Armed Patrols (GAP), Glenwood-buurtwag en die gemeenskap.
“Aan Dirk van der Berg, eienaar van GAP, kan ons net dankie sê vir hierdie wonderlike gebaar, wat baie sal help om ’n veiliger gemeenskap vir almal in Glenwood te verseker,” sê Visser.
Muur geverf
“Ook ’n groot dankie aan ons inwoners wat ons toegelaat het om by hul elektrisiteitsnetwerk aan te sluit om die heining van krag te voorsien.”
Die volgende stap sal wees om die muur te verf.
Hierdie projek bring ook die samewerking tussen die sekerheidsmaatskappy Goodwood Armed Patrols en Glenwood-buurtwag nader aan mekaar – met die vooruitsig om meer intense projekte rondom veiligheid te bewerkstellig, sê hy.





