Rika Swart is die nuwe hoofbibliotekaris van die Durbanville-biblioteek.
Rika Swart is die nuwe hoofbibliotekaris van die Durbanville-biblioteek.

Die Durbanville-biblioteek is ‘n plek vir almal – maak nie saak wat jou agtergrond of taalvoorkeur is nie, sê Rika Swart, wat op 1 Mei as die nuwe hoofbibliotekaris aangestel is.

Swart, oorspronklik van Noord-Wes waar sy in Potchefstroom grootgeword het, het al 27 jaar agter die blad as bibliotekaris by akademiese, tegniese en ook openbare biblioteke en het al in verskeie provinsies gewerk. Sy het in 2007 as bibliotekaris by die Vishoek-biblioteek in Kaapstad aangesluit. Ná twee jaar is sy tot senior bibliotekaris by die Houtbaai-biblioteek bevorder.

“Daar was ek ook betrokke by die Imizamo Yethu-gemeenskap, wat baie verrykend was,” vertel sy.

Sy is daarna bevorder tot hoofbibliotekaris – eers by die Rondebosch-biblioteek en later weer die Vishoek-biblioteek, waar sy sedert 2019 werksaam was.

Smit volg in die voetspore van René Schoombee, wat ná bietjie meer as drie jaar as hoofbibliotekaris by die Durbanville-biblioteek bevorder is tot areahoof van biblioteek- en inligtingsdienste van Stad Kaapstad.

Passie

“Ek het baie ervaring opgedoen met die verskillende gemeenskappe en ná 18 jaar in die suidelike voorstede het ek die groot stap geneem en na die noordelike voorstede verhuis,” sê Swart.

Haar liefde vir lees het haar na die beroep as bibliotekaris gelok. “Ek het later ook besef dat om in biblioteke te werk, nie net oor lees gaan nie, maar ook daaroor om met mense te kan werk. Verbasend genoeg ek het altyd ‘n passie vir naslaanbiblioteke gehad, want dit is hoe my loopbaan begin het. Maar as bibliotekaris by die Vishoek-biblioteek het ek die geleentheid gehad om in die kinderafdeling te werk en daar is soveel vreugde daarin om by ‘n kind ‘n liefde vir lees te kweek.

“Oor die jare het ek besef ons ouer mense het soveel kennis. Sal dit nie wonderlik wees as hulle ons jonges vaardighede kan leer en ook hul kennis kan deel nie? Ek sien baie ervare mense aftree en dan is al daardie kennis en vaardighede nie oorgedra nie. As bibliotekaris kan ons bymekaar leer en dit is hoekom ek my werk geniet,” sê sy.

Betrokke in gemeenskap

“Aangesien ek (nou) heeltemal in ‘n nuwe omgewing en gemeenskap werk, is dit vir my ‘n nuwe ondervinding. Maar ek hou baie van die Durbanville-gemeenskap, wat betrokke is in hul gemeenskap en ook in die biblioteek.

“Elke dag ontmoet ek nuwe mense, leer ek iets nuuts van die omgewing en gemeenskap, en dis verrykend om te sien ook hoe die biblioteekdiens ‘n verskil in die gemeenskap maak. Ek sien uit daarna om my loopbaan hier verder te ontwikkel,” sê sy.

“Hoewel al die biblioteke in Stad Kaapstad dieselfde dienste voorsien, is dit die gemeenskap – sommige bevoorregte en ander minderbevoorregte – wat die biblioteekdiens beïnvloed. Die Durbanville-biblioteek is een van die top-drie besigste biblioteke van die 102 biblioteke in die stad, so dit beteken ons het hier baie aktiewe lesers,”sê sy.

Potensiaal om te groei

“Ek is nog besig om waar te neem wat ons op die oomblik vir die gemeenskap aanbied, en wat ons in die toekoms beter kan doen, Ons moet ook kyk na die veranderings in die gemeenskap en of die biblioteekdiens aangepas het. Daar is baie potensiaal om te groei en ek en my span gaan hard werk om ons biblioteek te laat uitblink. Dit is belangrik vir my dat ons gemeenskap moet weet dat die openbare biblioteek ‘n plek is vir almal. Ons bly in ‘n diverse samelewing en dis verrykend om ‘n diens aan almal te kan voorsien.

“Dis vir my belangrik dat, maak nie saak watter taal jy gebruik nie, jy altyd sal welkom voel in ons biblioteek,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article