Sers. Jerome Davids het aan die begin van Oktober die leiding as bevelvoerder van Sektor 1 van die Kuilsrivier-polisiëringsgebied by sers. Pieter du Toit oorgeneem.
Davids is die afgelope 19 jaar, sedert 2004, aan die Kuilsrivier-polisie verbonde.
Hy was aanvanklik by misdaadvoorkoming betrokke voordat hy skofte begin werk het.
In 2010 het hy vir ’n tydjie as deel van die polisie se openbareorde-eenheid tydens die Sokker-wêreldbeker by stadiums diens verrig.
Davids studeer tans deeltyds regte (LLB) aan die Universiteit van Suid-Afrika.
Hy sê hy is gewoond aan leiding neem.
“Ek was maar altyd die leier van my skof. Die posisie as sektorbevelvoerder is dus ’n maklike aanpassing.”
Hy het besluit om vir die vakante pos aansoek te doen op aanbeveling van sy voorganger, Du Toit. “Hy ken my werksetiek,” sê Davids.
Sektor 1 sluit die woonbuurte Stellendale, Highbury Park, Highbury, Danarand en De Kuilen, sowel as die nywerheidsgebied, asook ’n deel van die Kuilsrivier-sakekern tussen die Shoprite-sentrum en die begraafplaas, in.
Davids sê sy visie vir die sektor is om almal – die polisie en die gemeenskap – bymekaar te bring om misdaad te bekamp, en om hand aan hand te werk met die buurtwagte en die gemeenskapspolisiërings-subforum.





