Die Ruyterwacht Senior Sentrum kry ’n nuwe bestuurder.
Kenny Traut, die voormalige waarnemende bestuurder, verduidelik dat die vorige bestuurder, Catherine Botha, na Kanada verhuis het en dus einde Desember 2022 as bestuurder bedank het.
“Die beheerraad moes toe dringend aandag skenk aan die proses om ’n nuwe bestuurder te vind by wyse van ’n proses ingevolge Badisa se personeel-beleid.
“Hierdie is tydsaam en duur, en ’n gebeurlikheidsplan moes in plek gestel word,” verduidelik hy.
Traut, voorsitter van die beheerraad, is al 25 jaar by hierdie dienssentrum betrokke en daarom het die beheerraad dit goed gedink vir hom om in te staan as waarnemende bestuurder tot hulle ’n suksesvolle kandidaat gevind het om oor te neem.
Op Donderdag 1 Februarie het ’n nuwe bestuurder amptelik by die sentrum begin.
Sy is Nanda Brits, wat voorheen gewerk het vir die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV) by ’n tehuis in Franschhoek.
Brits is nuut by die sentrum, maar “sy het baie goeie ervaring van NPO’s en algemene en personeelbestuur van die program geoormerk vir bejaardesorg, meen Traut.
Hy was waarnemend vir die tydperk Januarie 2023 tot Januarie 2024, en was in Februarie fasiliteerder vir die oorname van die nuwe bestuurder.
Hy keer terug na die beheerraad as voorsitter met hierdie amp se verantwoordelikhede.
“Beheerraadslede, personeel en lede is baie opgewonde oor die nuwe bestuurder se aanstelling en ons het volle vertroue in haar bekwaamhede,” sê Traut.



