Noordelikes-rugbyklub van Elsiesrivier het Saterdag weer die onderspit gedelf teen Atlantis op Avonwoodpark met 31-22 in die Promosieliga van die Westelike Provinsie Rugbyunie. Hulle sal in 2023 weer in die Stadsliga meeding, want kon geen wedstryde tot dusver wen nie.
Volgens die voorsitter van die klub, Philip Marques, het dinge op die veld nie vanjaar verloop soos hulle gedink het nie.
“Ons het op kritieke tye in wedstryde konsentrasie verloor of is net oordonder deur spanne soos Hamediehs en Van der Stel-Evergreens, wat tans die toon aangee in die liga. Ons kon ook nie in ons twee kragmetings teen Lagunya hond haaraf maak nie en het albei wedstryde verloor. Dis nou weer terug na die tekenbord om ons beplanning vir volgende jaar te doen,” sê hy.
Hy voeg by dat hulle gehoop het om uit die liga op te skuif, maar sal volgende jaar weer probeer as hulle weer die Stadsliga wen.
Die wenner van die Promosieliga sal eers op Saterdag 1 Oktober aangewys word, maar alle aanduidings is dat Hamediehs wat nog onoorwonne is, met die Top 9-titel kan wegstap, gevolg deur Van der Stel-Evergreens (VDE). Die derde span om by die twee in Superliga C volgende jaar aan te sluit is nog nie ’n uitgemaakte saak nie. Die drie spanne wat om die plek meeding, is Blakes, Violets en Masiphumelele. Blakes het Saterdag teen VDE in die derby met 21-10 verloor en moet sy oorblywende twee wedstryde teen Hamediehs en Sir Lowrians met ’n bonuspunt wen om onder die top vier te eindig.
Spanne in posisie drie en vier op die punteleer speel op ’n neutrale veld uit om te bepaal wie die derde span is wat ook in Superliga C in 2023 sy debuut gaan maak.
Hamediehs het Violets in Athlone met 22-16 geklop en Sir Lowrians het ’n loslootjie gehad. Masiphumelele het Lagunya met 30-14 afgeransel en marsjeer voort om ’n plek onder die eerste vier.
Die halfeindstryde van Superliga A, B en C word Saterdag op City Park gespeel nadat dit die afgelope Saterdag uitgestel is.
Saterdag 17 September se wedstrydbepalings:
Superliga A:
Valsbaai vs Maties
Durbell vs Ikeys
Superliga B:
St Georges vs Hands & Heart
Helderberg vs Belhar
Superliga C:
Strand vs Kylemore
CPUT vs Macassar
Promosieliga:
Hamediehs vs Blakes (Athlone)
Atlantis vs Van der Stel-Evergreens (Atlantis)
Masiphumelele vs Northerns (Noordhoek)
Sir Lowrians vs Lagunya (Sir Lowrys Pas)
Violets het ’n loslootjie




