Noordelikes van Elsiesrivier het die tweede keer vanjaar teen Lagunya op Avonwoodpark verloor, toe die besoekers hulle het met 32-22 in die Promosieliga van die WP-Rugbyunie geklop het.

Die eerste pak het die span van Elsiesrivier in die Stadsliga ontvang. DIe span is steeds op soek na sy eerste oorwinning en het net een punt op die punteleer.

Die grootste verrassings in die liga is egter deur Sir Lowrians en Masiphumelele gelewer, toe hulle onderskeidelik met die voorlopers, Van der Stel-Evergreens en Hamediehs, met 43-42 en 29-25 afgereken het. Die uitslag beteken dat dit nou nie ’n uitgemaakte saak is wie die top-vier posisies gaan beklee nie. Die spanne in posisie een en twee promoveer outomaties na Superliga C volgende jaar, terwyl spanne in posisies drie en vier op ’n neutrale veld sake sal uitspook om te bepaal wie die derde span is wat Superliga C speel.

Soos die punteleer tans is, is die aanspraakmakers om as Top-nege-kampioen gekroon te word, Van der Stel-Evergreens, Violets, Hamediehs en Blakes.

Laasgenoemde twee het egter een wedstryd minder as die ander twee gespeel. Blakes en Van der Stel-Evergreens speel juis die naweek in hul derby op Stellenbosch, terwyl Hamediehs op sy tuisveld met Violets kragte meet.

Die voorlopers kan ook nie verwag dat spanne hulle gunsies moet bewys nie, maar dat hulle hul eie potjies op die veld moet krap om seges met bonuspunte te behaal.

Noordelikes het ook nie ’n maklike taak Saterdag nie, want hulle speel teen Atlantis, wat Saterdag deur Violets met 40-0 in Lansdowne afgeransel is. Atlantis sal wil vergoed vir die pak, en Noordelikes is ook op soek na sy eerste oorwinning in die kompetisie.

Violets sal sy oorwinning oor Atlantis moet vergeet wanneer hulle in Athlone teen Hamediehs kragte meet. Dis nie so maklik om die tuisspan in Athlone te klop nie, en ’n taai stryd word verwag.

Lagunya kom Saterdag te staan teen Masiphumelele in Nyanga en laasgenoemde het teen die verwagting in met Hamediehs in Noordhoek afgereken. Masi is nou stert in die lug en Lagunya sal hul vere wil pluk op hulle tuisveld. Sir Lowrians het ’n loslootjie en sal dinge fyn dophou.

Saterdag 10 September se wedstrydbepalings:

  • Noordelikes vs Atlantis (Elsiesrivier);
  • Hamediehs vs Violets (Athlone);
  • Lagunya vs Masiphumelele (Nyanga);
  • Van der Stel-Evergreens vs Blakes (Stellenbosch);
  • Sir Lowrians het ’n loslootjie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article