Die NG kerk Bellville (of die moedergemeente genoem) se gemeentelede skuif nou na die NG kerk Bellville-Noord. Die moedergemeente is in Bellville se middestad. FOTO: Nielen de Klerk


Nog twee kerke in Bellville het nie-amptelik saam begin dienste hou.

En verbasend genoeg is daar sedertdien ’n klomp nuwelinge wat kerk toe kom, sê ds. Kobus van Rooyen, leraar by die NG kerk Bellville-Noord, oor hul eenwording met die NG kerk Bellville.

Die lidmaatgetalle van die NG kerke in Bellville nader aan die sakekern het oor die afgelope twee dekades drasties afgeneem, hoofsaaklik omdat die demografie in die gebied verander, volgens verskeie leraars.

Dit is die tweede samesmelting nadat die NG kerk Bellville-Riebeeck en NG kerk Bellville-Oos verlede jaar aangekondig het hulle gaan een word.

Die NG kerk Bellville, of die moedergemeente soos dit ook bekendstaan, se lidmate het vroeër vanjaar dienste by die NG kerk Bellville-Noord begin bywoon. Dit is egter nog nie ’n amptelik nie en die gemeentes hoop om teen Maart volgende jaar die proses af te handel.

Ds. Herman Burger, leraar van die moedergemeente, sê hulle het in effek net drie ouetehuise bedien en het die skuif nie ’n groot invloed op hul gemeentelede nie, omdat leraars in persoon na die tehuise gegaan het.

Nou kan beide predikante hul hulpbronne, soos bussies, deel.

“Hier is sommer nuwe energie,” sê Van Rooyen.

Burger sê die skuif het begin toe so ses of sewe uit die 14 gemeentes in die Bellville-ring voor Covid-19 bymekaar gekom het om oor die pad vorentoe te gesels. 

Hulle noem hulself spottenderwys die “onderdorp”-gemeentes omdat hulle almal naby die middestad geleë is. 

“Ons het besef ons moet begin vorentoe kyk en die prentjie lyk al erger oor hoe die demografie lyk.”

Hul kerkrade het ook bymekaar gekom en hulle het ooreengekom kerke gaan in die toekoms saam moet dienste hou.

Covid-19 het die proses versnel en die groeperings het spontaan plaasgevind. Leraars het ook afgetree, wat in sekere opsigte die proses makliker gemaak het.

“Die Here het maar gelei,” sê Burger. Dit was vir hom ’n baie mooi proses. 

Burger sê hy is uiteraard hartseer oor die gebou, wat 84 jaar oud is. 

Die moedergemeente het 87 jaar gelede van die NG kerk Durbanville afgestig en is die oudste NG kerk in Bellville. Gemeentelede het eers in ’n saal bymekaargekom terwyl konstruksiewerk aan die gebou klaargemaak is.

“Dit is ’n mooi stuk geskiedenis.”

Daar was egter net ’n maksimum van 30 mense weekliks in ’n diens.

Hy sê daar is nog baie opsies vir die kerkgebou vorentoe en hulle wag nog vir leiding oor wat gaan gebeur. Die gebou word klaar deur ander kerke vir dienste en selgroepbyeenkomste gebruik en is voorheen vir kindersorg aangewend. Parkering word reeds uitverhuur. Mes, die organisasie wat met haweloses werk, gebruik ook die pastorie.

Die orrel, wat ’n ingevoerde pyporrel uit Duitsland is, sal moontlik gebruik word om ander te leer hoe om die instrument te gebruik.

Burger en Van Rooyen is albei tentmaker-leraars, hoewel Burger eers onlangs een geword het. 

Van Rooyen het ’n raambesigheid en Burger, help onder meer met gehoortoetse en boekhou.

“Ons droom nog,” sê Burger oor hul toekoms.

“Ons het baie om te leer. Party mense sien dit as negatief, maar ek dink dis ’n positiewe reis. Ek sien dit as ’n nuwe begin. Die Here se werk gaan voortgaan hier.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article