Nog ’n moord is verlede week in Parow aangemeld.

Verskaf

Nog ’n moord is verlede week in Parow aangemeld.

Peter Cloete van die Parow Crime Fighters-buurtwag (Pacrif) sê die moord is Vrydagoggend gerapporteer.

’n Man (36) is doodgesteek – glo by dieselfde plek waar twee lyke verlede maand gevind is, sê hy.

Die ondersoek duur voort, sê Cloete.

Volgens hom is die man oorspronklik van Avonwood in Elsiesrivier, maar het hy in Parow gewoon. Hy is ook die pa van ’n vierjarige, sê Cloete.

Kapt. Kevin Williams, polisiewoordvoerder, het die moord bevestig.

Williams sê die moordtoneel is in Cloetestraat, Parow.

“Die slagoffer is glo gesteek en is op die toneel dood. Die verdagtes is nog onbekend en het van die toneel gevlug.”

Hy sê die speurdiens in Parow is besig met die ondersoek.

AO Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder, het verlede maand gesê twee lyke is op Maandag 18 Julie in Cloetestraat onder ’n brug gevind.

Die slagoffers het ook steekwonde opgedoen en is in komberse toegedraai.

Die mans was onderskeidelik 25 en 30 jaar oud.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article