Nog ’n ontwikkeling, bekend as die Glengarry-ontwikkeling, word beplan vir gemengde gebruik om voorsiening te maak vir behuising, besighede en ander geleenthede.
Dit is agter die Glengarry-winkelsentrum – noord van die De Bron-weg en wes van die Brackenfell-boulevard. Besware teen die ontwikkeling sluit op 18 April.
“Ons is bewus dat ontwikkeling nodig is en niemand behoort daarteen gekant te wees nie, mits dit met doeltreffende en genoegsame infrastruktuur gepaard gaan.
“Dit is egter ’n feit dat die huidige infrastruktuur in die algemeen, maar veral die paaie wat hierdie ontwikkeling en die aangrensende gebiede moet bedien, reeds nie meer die mas opkom nie – veral tydens spitsverkeer,” sê Leon Brynard, bestuurder van die Vredekloof-stadsverbeteringsdistrik (CID).
“Die Vredekloof-CID het nou ook met skok van nog ’n ontwikkeling van 250 drie- en viervlakwoonstelle verneem, wat in Vredekloof-Oos beplan word. Toegang daartoe is ook vanaf De Bronweg en Brackenfell-boulevard, wat verdere druk op hierdie twee paaie sal plaas,” sê hy.
Openbare deelname
Die openbare deelnameproses vir hierdie ontwikkeling, bekend as Môreson Estate, het reeds in Oktober 2023 gesluit en volgens Brynard kom dit voor of baie min geaffekteerde partye daaroor ingelig was. “Baie min inwoners is seker bewus van die De Bronweg-aftreeoord op die hoek van De Bron- en Marigoldweg, wat ook beplan word en reeds sekere goedkeurings ontvang het. Hoewel die impak van ’n aftreeoord minder in spitsverkeer sal wees, is dit steeds die verkeer van 171 wooneenhede met 202 parkeerplekke wat tot die verkeer in De Bronweg en Brackenfell-boulevard gaan bydra,” sê Brynard.
Toegang tot die oord kom ook vanuit De Bronweg en Brackenfell-boulevard via Cindylaan. Die ontwikkeling sal gedeeltelik uit vyf verdiepings bestaan – drie bo-gronds en twee ondergronds.
Die Andrag-ontwikkeling, bekend as Eastglen, Glencrest en Glenwood, bestaan uit 534 eenhede. Hierdie ontwikkeling, met die laaste en grootste blok van 200 eenhede dié van Glenwood, is so pas voltooi. Volgens Brynard is dit baie kommerwekkend dat nie een van hierdie ontwikkelings se verkeersimpakbepalings die verkeer van ander beplande ontwikkelings ingesluit het nie. “As daar dus na ’n ontwikkeling van 200 eenhede in isolasie gekyk word, dan blyk dit dat dit nie ’n groot impak sal hê nie, maar die werklike impak van ongeveer 3 363 voertuie word geïgnoreer,” sê hy.
E-pos besware na comments_objections.northern@capetown.gov.za op die voorgeskrewe vorm, en ’n afskrif na manager@vredekloof.co.za.




