Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die dood van ’n 15-jarige meisie wat vroeg verlede Vrydagnag in Wallacedene vermoor is nie.
Shannon Miggel, ’n gr. 7-leerder aan die Primêre Skool Petunia in Scottsville, is dood nadat ’n Vibracrete-paneel op haar kop gegooi is.
Volgens beskikbare inligting het sy haar moordenaars se name uitgeroep voordat sy gesterf het.
Shannon se bedroefde ma, Patricia (40), het aan verslaggewers gesê dat Shannon nie die Vrydag voor haar dood skool toe is nie omdat sy haar oupa met werk in Parow gaan help het.
Sy het haar dogter nie weer gesien tot Saterdagoggend toe sy geroep is na waar sy erg beseer in Dorisstraat in Wallacedene gelê het nie.
“Sy het hulpeloos op haar rug gelê met die swaar Vibracrete langs haar,” sê Miggel.
Volgens inligting is Shannon laas gesien waar sy saam met twee mans gestap het.
Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie is na die toneel ontbied, waar hulle die slagoffer met ernstige kopbeserings gevind het. Sy is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
“Die verdagtes het op die vlug geslaan en is nog nie in hegtenis geneem nie. Die motief vir die moord is onbekend in dié stadium,” sê hy.
Enigiemand met inligting kan Crime Stop by 08600 10111 kontak.



