‘Nie almal kry die geleentheid’: Pa, sussies oorsee om aan sport deel te neem

Gerrit van Rhyn (60) en sy dogters, Lize (22, links) en Helen (25).


Min mense kry Suid-Afrikaanse kleure in ’n sport, nog minder saam met twee lede van hul gesin.

Maar die Van Rhyn-susters, Helen (25) en Lize (22), asook hul pa, Gerrit, is gewoond aan die ongewone.

Hulle moet immers gedurig aspekte van hul minder bekende sport, onderwaterhokkie, aan mense verduidelik.

Die gesin van Kanonberg het Saterdag Australië toe gevlieg waar hulle aan die wêreldkampioenskap vir onderwaterhokkie gaan deelneem.

Gerrit is in die Suid-Afrikaanse meesterspan en die sussies in die Suid-Afrikaanse elitespan.

“Die eerste ding wat mense vra is altyd hoe jy asemhaal,” sê Lize.

“Ons is heeltyd onderwater,” verduidelik haar sussie, Helen. “Ons speel nie met skubatenks nie.”

Die gesin se betrokkenheid by die sport het jare gelede met Helen begin.

Helen het by ’n familievriend van die sport te hore gekom, maar toe sy sien hoe deelnemers by die Hoërskool La Rochelle oefen, was die koeël behoorlik deur die kerk.

Sy het deur die jare behoorlik geskitter en is Hongarye en Spanje toe as lid van die Suid-Afrikaanse o.19-span.

Lize het egter nie op haar laat wag nie en later ook die sport begin beoefen.

Die sussies was gou ’n gedugte span en het albei aan die o.19- junior wêreldkampioenskap in Tasmanië en die o.24- junior wêreldkampioenskap in Engeland deelgeneem.

Eerste keer op 60

Hierdie kompetisie in Australië is egter die eerste keer dat Gerrit ook deelneem.

“Ek het altyd vir Helen so rondgery,” sê hy.

“Sy het my genooi (om saam te oefen). By die opwarming was ek amper dood gewees.”

En nou, op 60, het hy vir die eerste keer ook sy nasionale kleure.

“Dis die wonderlike ding van die sport,” sê hy.

“Ek is waarskynlik die oudste (in ons span). Enige ouderdom kan teen mekaar speel. Dit is een van min sporte waar jou gehalte (van spel) verbeter hoe meer jy insit.”

Hy oefen immers dikwels saam met sy dogters.

“Ek kry gereeld blou oë van my pa se kant af,” sê Helen skertsend.

Dit bly vir hom ’n ongelooflike ervaring om saam met sy kinders te gaan deelneem en ook die deel van die toernooi waarna hy uitsien.

“Min mense kry daardie geleentheid.”

Die twee sussies, onderskeidelik ’n ingenieur en ’n student in fisiologie, ding nie teen mekaar mee nie, maar ondersteun mekaar eerder.

“(Dit is lekker) om vir so lank voor te berei en te weet daar is een persoon by wie ek 100% eerlik kan wees,” sê Lize.

Gerrit sê dit bly mooi om te sien hoe hulle mekaar se raad vra en as ’n span speel.

“Hoe julle mekaar absoluut vertrou.”

Die groep het die afgelope paar jaar eindelose ure geoefen. Helen skat sy’t die afgelope paar weke drie ure per dag voorberei.

Vir twee weke gaan hulle ’n droom leef, sê Helen. Dis waar hulle kan maak of hulle professionele sportmense is. “Dis net jy en jou span daar.”

En in die Van Rhyns se geval, is hul span gesinslede ook.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article