Kom wat wil, sê ’n jong vrou van Silversands, maar sy gaan New York toe om haar drome te bewaarheid.
Jaydine Stuurman het die geleentheid om Suid-Afrika by die International Modeling and Talent Association (Imta) in Junie in New York te verteenwoordig.
Imta is een van die voorste talent-organisasies in die wêreld en bring jaarliks talentvolle mense in aanraking met onder meer talentsoekers, agente, musiekvervaardigers en regisseurs by hul konvensies in New York en Los Angeles.
Vanjaar se Imta vind van 25 tot 29 Junie in New York plaas en Jaydine is vasbeslote om daar deur ’n agent raakgesien te word en dan uiteindelik haar drome om ’n ster te word, waar te maak. Maar eers kort sy duisende rande om dit moontlik te maak.
“Ek werk hard om die geld in te samel sodat ek New York toe kan gaan. Niks of niemand gaan in my pad staan om hierdie droom van my te verwesenlik nie.
“Vandat ek uitgevind het ek is gekies om Imta by te woon, het ek begin woeker,” sê Stuurman, wat oorspronklik van Klawer af kom, maar in 2019 aan die Hoërskool Silversands gematrikuleer het.
Ná matriek het sy drama gaan studeer en verskeie werksessies bygewoon. “Ek het ’n baie groot verbeelding en wou sedert ek kan onthou ’n akteur wees. Ek het ’n passie om stories te vertel en om kreatief te wees.
“Jy sal oplet dat ek na myself as ’n akteur verwys en nie ’n aktrise nie, want ’n akteur kan alles wees. As klein kind wou ek altyd alles wees: ’n dokter, ’n prokureur, sjef, onderwyser en in een stadium wou ek vloot toe gaan. As akteur kan ek al hierdie en meer wees,” sê Stuurman.
Stuurman het die afgelope Saterdag ’n karwasdag in Silversands aangebied in ’n poging om geld in te samel.
Indien jy daarin belangstel om Stuurman by te staan om haar drome te bewaarheid, kontak haar op WhatsApp by 076 888 7278.





