‘n Man wat onlangs uit die tronk gekom het kon nie lank sy vryheid geniet nie, nadat sy lewelose liggaam verlede Vrydag in die bosse by Wesbank gevind is.

Ashley “Bobby” Boer (32) se lewelose liggaam is Vrydag rondom 13:30 in ‘n oop veld in Vogelvlei-straat deur jong kinders, wat wou speel, gevind. Hy het ‘n skietwond aan sy kop gehad.

Vyf maande op vrye voet

Boer is glo vyf maande gelede uit die tronk vrygelaat, waar hy vir vier jaar weens moord opgesluit was.

Wesley Twigg, polisiewoordvoer, sê die Mfuleni-polisie het gereageer op ‘n noodroep en met hul aankoms by die toneel het hulle Boer se lewelose liggaam gevind. “Die slagoffer is op die toneel dood verklaar. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek,” sê Twigg.

Boer was glo agter tralies weens twee moorde, maar is vroeg vrygelaat nadat daar bevind is hy is onskuldig. Volgens aanlynkommentare op sy dood was hy besig om die stukkies van sy lewe op te tel toe hy vermoor is. TygerBurger kon nie hierdie inligting onafhanklik bevestig nie.

Die polisie het ‘n beroep op enigiemand met inligting oor die moord gedoen om na vore te kom of die polisie se Stop Misdaadnommer, 10111, te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article