Johanna Gryzenhout (61) vermoed al die stres weens die gesukkel om haar Sassa-toelae te bekom, het daartoe bygedra dat sy weens ’n hartaanval in die hospitaal beland het.fOTO: Carina Roux


Verlede Donderdagoggend, ’n dag en ’n half nadat sy uit die Netcare Kuilsrivier-hospitaal ontslaan is, was Johanna Gryzenhout (61) nog nie seker of haar Sassa-toelae wel inbetaal is nie.

Gryzenhout, wat ’n ongeskiktheidstoelae van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) ontvang, is een van duisende wat van vroeg vandeesmaand onsuksesvol probeer het om toegang tot hul geld te kry.

Sy het weer en weer probeer – totdat sy op Dinsdag 12 September met ’n hartaanval in die hospitaal opgeneem is.

’n Hele paar outomatiese teller-strokies van probeerslae wat lees: ‘die transaksie is geweier, kontak jou bank’, asook Shoprite-strokies wat wys daar is net R12 op haar kaart, getuig van die gesukkel. Die mense by die winkel het vir haar gesê sy moet haar geld by die poskantoor gaan trek. Sy is elke dag soontoe, vertel sy.

“Jy staan daar buite in die ry vir sewe, agt ure. Ek het al nege operasies in die een been gehad, ek kan nie so lank staan nie. Daar is nie sitplek nie, net vier stoele as jy naby (die toonbank) kom. So, jy sit op die sypaadjie of probeer maar staan en vasbyt. Boonop was dit reënerig en yskoud.”

Hartaanval

Daardie Dinsdag het sy weer in die Sassa-tou gestaan toe sy begin voel het daar’s fout. “My dokter (se spreekkamer) is naby die biblioteek. Ek het van die poskantoor tot daar geloop. Hulle het my dadelik ingevat. Die dokter het ’n EKG gedoen, toe sê sy ‘jou hartklop is baie stadig, ek dink jy is besig om ’n hartaanval te kry’.”

Die dokter se sekretaresse het met haar hospitaal toe gejaag terwyl die dokter solank laat weet het hulle is op pad. “Toe ons daar kom toe staan hulle reg vir my.”

Daar is bloukolle op haar arms weens ’n gesukkel om bloed te trek. Sy beduie na haar voet waar die naald uiteindelik moes in. “Daai was nou seer.”

Omdat sy meer as 10 jaar gelede ’n dubbele hartaanval gehad het en twee stente en ballonnetjies in van haar are het, was die dokters bekommerd dat daar dalk iets platgeval het.

“Dit is alles darem orraait, maar die are op en om die hart het seergekry.”

Na ’n week in die hospitaal is sy ontslaan met ’n lang lys pille wat sy daagliks moet neem om die skade ongedaan te kry.

Toustaan

Sy weet die mense wat daardie Dinsdag in die tou bly staan het, het ook nie toe hul geld gekry nie.

“Sassa is ’n pyn elke maand,” sê Gryzenhout.

“Jy kom al 07:00 by die poskantoor, dan staan hierdie lang rye. Dan loop die ou (’n werknemer) daar (langs die ry) af en kondig af: ‘daar is nie geld om julle uit te betaal nie, maar as jul wil check of jul geld reverse is, dan kan julle maar verder in die lyn staan.

“Elke dag gaan jy maar en staan in die lyn en dan het hulle nie geld nie. Hulle sê hulle kry net ’n sekere bedrag (kontant) om mense uit te betaal. So, sê maar 14 mense kan betaal word en die res nie, want hulle het nie meer (kontant) nie.”

Die hartseer breek deur in Gryzenhout se stem toe sy vertel van die bejaardes wat sy in die tou gesien het. “Ek raak ook oud, maar daar was tannies wat so (oorgebuk) geloop het – baie ouer as ek, 80 of 85, wat in die lyn moet staan.

“Niemand sê hulle kan maar vorentoe gaan nie. Nee, hulle moet staan of op die sypaadjie sit. Dit het my baie hartseer gemaak.”

“Ek het nege operasies op die been gehad, wat effens korter is as die ander een. Ek het net een kruk. As jy moeg en seer raak, gaan sit jy maar op die sypaadjie – nou praat jy van ses, sewe ure. Ek is op chroniese hartmedikasie; ek is ’n diabeet, ek het nie iets gehad om te eet of te drink nie. Jy kan nie uit die ry gaan nie, dan verloor jy jou plek. Jy kom 14:00, 15:00 van daar af. Elke dag sê hulle ‘die geld is nie daar nie, kom weer môre.’”

Sy twyfel nie dat al die stres bygedra het tot die hartaanval nie, en raak sommer vies toe sy vertel van die video wat sy aanlyn gesien het van ’n spreker van Postbank wat gesê het al die begunstigdes het hul geld ontvang. Sy is ook nie oortuig dat die probleem net aan ’n glitch in die sisteem toegeskryf kan word nie.

Die geld is min

Om van “Sassa tot Sassa” te leef is nie maklik nie, sê Gryzenhout. “Jy koop krag en ’n bietjie kos; die geld is baie min.”

In Oktober word die toelae met R10 verhoog. “Dis ’n skande. Jy kan nie eens ’n brood daarmee koop nie.”

Haar Sassa-toelae moet ook help om huur en die bybetalings vir chroniese medikasie wat haar mediese fonds nie dek nie, te betaal.

Gryzenhout ken die vrou in wie se erf sy ’n dak oor haar kop gekry het al ’n geruime tyd en is dankbaar vir elke bietjie genade.

Sy het ’n paar jaar gelede van Gauteng Kaap toe gekom en in Mitchell’s Plain gewoon voor sy Kuilsrivier toe getrek het. Haar verhuurder het vir haar ’n plekkie in hul erf laat inrig en selfs vir haar trek betaal. Haar vorige verhuurder het haar op ’n keer met die vuis bygedam, vertel sy.

Toe sy nie haar toelae kon kry nie, het sy haar huidige verhuurder gevra om haar asseblief nie uit te sit nie. Die vrou het haar gerus gestel dat dit nie sal gebeur nie en ook vir haar krag gekoop, vertel Gryzenhout.

“Ek wil graag huur betaal (want) die vrou het my klaar ’n guns bewys deur die plekkie vir my op te sit.”

Hoewel sy Donderdag nog nie sterk genoeg gevoel het om te gaan kyk of haar Sassa-geld nou inbetaal is nie, was sy dankbaar dat die hospitaal vir haar ’n loopraam (met ’n sitplek wat kan uitvou) gereël het.

“Ek is nog seer, so nou loop ek stadiger as ’n skilpad. Hulle het dit gegee sodat ek daaraan kan vashou en kan gaan sit as ek nie meer kan staan nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article