Meer haarsalonne moet hul besighede oopmaak en kennis met skoolleerders deel, meen die eienaars van Platinum Hair and Beauty in Rosenpark.
Hierdeur kan hulle met ’n klein daad ontelbare lewens raak.
“Die kinders het blootstelling nodig,” sê Enver Addison, mede-eienaar van die salon.
“Dis moeilik om geplaas te word vir dié wat ’n werkskaduwee van iemand wil wees.”
Die salon het verlede week sy tweede groep leerders van die Westcliff Vaardigheidskool in Bellville verwelkom wat kom kyk het hoe haarkappery in die “regte wêreld” werk.
Die leerders neem almal haarkappery as ’n vak by die skool.
Buiten demonstrasies deur die salon se kenners en Anwyn Stuurman van die haarstileringprodukmaatskappy GHD, het die tieners ook verversings gekry.
Die grootste aardigheid was egter toe twee lede van die Suidooster-rolverdeling ’n draai gemaak het.
Platinum Hair and Beauty borg al sedert die aanvang van die program die sepie se produkte en haarstilering. Die akteurs word gereeld in die salon gesien, waar hulle hul hare laat doen.
Jill Levenberg (wat Mymoena speel) en Jawaahier Petersen (Kaashifa) het glimlaggend met die tieners vir foto’s geposeer.
Levenberg en Petersen het Addison se sentiment beaam.
“Ons wil meer salonne uitdaag om betrokke te raak,” sê Petersen.
Leerders en studente wat kenners by ’n onderneming kan werkskadu kry kennis wat hulle ’n voorsprong in die lewe gee. Hierdie plasings kan ook gratis plaasvind. Dit geld ook op ander gebiede soos sweisery en timmerwerk.
Petersen, wat eers as ’n maatskaplike werker by skole gewerk het, sê die land het meer skole soos Westcliff nodig. “Ons het meer vaardighede nodig.”





