Een van die land se grootste interskole-atletiekbyeenkomste ondergaan vanjaar ‘n naamsverandering met die bekende MTBS wat nou as DTBS bekend sal staan.
Die naamsverandering weerspieël die evolusie van een van die deelnemende skole, nadat DF Malan onlangs sy naam na DF Akademie verander het.
Die nuwe naam gebruik die eerste letters van die vier deelnemende skole wat al 32 jaar by die byeenkoms betrokke is: D vir die DF Akademie, T vir Tygerberg, B vir Bellville en S vir Stellenberg.
Tradisie bly behoue
Al verander die naam, bly alles andersins dieselfde, volgens die organiseerders.
Die byeenkoms behou sy tradisie van indrukwekkende flashes en mededingende atletiek met dieselfde voorbereiding, spanwerk, harde werk en deursettingsvermoë wat die geleentheid oor dekades gekenmerk het.
Die flashes sal steeds by die DHL-stadion plaasvind, gevolg deur die atletiek by die Groenpunt-stadion om die DTBS-2026-wenners te bepaal.
Hierdie byeenkoms kom op Saterdag 7 Februarie aan die beurt. Kaartjies is reeds by Quicket beskikbaar.
Die byeenkoms lok jaarliks duisende toeskouers en deelnemers.
DF Malan se naamsverandering na DF Akademie
Die voormalige Hoërskool DF Malan in Bellville het sy deure aan die begin van die 2026-skooljaar as DF Akademie geopen ná ‘n jare lange juridiese proses wat op 4 Junie 2025 deur die Appèlhof in Bloemfontein as wettig bevestig is.
LEES OOK: DF Akademie open sy deure onder nuwe naam
Die skool se beheerliggaam het die besluit geneem om die naam te verander om dit meer in pas te bring met die skool se waardes, terwyl alle kernwaardes behoue bly. DF Akademie bly verbind tot Afrikaans-medium-onderrig en ‘n Christelike grondslag.
Die bekende afkorting DF kry nou nuwe betekenis en staan vir “Dux Fidelis” – Latyn vir “getroue leier”. Die skool behou sy skoolwapen met die leuse “Vir jou Suid-Afrika”, sy tradisies en hoë akademiese standaarde.
Hierdie verandering was nie bedoel om die skool se ryk 70-jarige geskiedenis uit te wis nie, maar eerder om ‘n brug te vorm tussen die verlede en toekoms.
Die skool het onlangs sy uitnemende 2025-matrikulante se uitslae met ‘n 100%-slaagsyfer en 96,4%-universiteitsvrystelling gevier.





