Motor aan brand gesteek ná ongeluk in Elsiesrivier

Hierdie motor is ná ’n ongeluk aan die brand gesteek.


Wat net ’n doodgewone ongeluk was, het verlede week in Elsiesrivier in iets leliks ontaard.

Alles het begin toe ’n 36-jarige man van Kameroen, wat ’n silwerkleurige Ford Fiësta bestuur het, in ’n botsing met ’n wit Toyota Hilux-bakkie op die hoek van Halt- en Owen-weg betrokke was.

Volgens AO Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, het die twee partye besluit om die saak by die bakkie-eienaar se huis in Ravensmead te gaan uitpraat.

“Toe hulle by die huis opdaag, het dinge handuit geruk en die man van Kameroen is aangerand. Hy het toe die perseel verlaat en ’n klag by die Elsiesrivier-polisie aanhangig gaan maak,” sê Swartbooi.

Terwyl die man sy klagte ingedien het, het die bestuurder van die Hilux opgedaag om sy besonderhede vir die ongeluksverslag te verskaf.

“Op dieselfde tydstip het ’n ooggetuie by die kantoor ingehardloop en kom vertel dat insittendes van ’n wit Toyota-bakkie die wit motor aan die brand gesteek het. Hulle het toe op die vlug geslaan,” sê Swartbooi.

Hy sê die polisie ondersoek ’n saak van opsetlike saakbeskadiging.

Enigeen met inligting oor die voorval, kan die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article