As die polisie nie die moordenaars van sy dogter kan opspoor nie, sal hy dit self doen.
Só sê ’n pa van Elsiesrivier, wie se dogter, Tiffany van Wyk (22), op 19 Desember doodgeskiet is.
Elijah Poole sê dit lyk of daar nie aandag aan die saak oor sy dogter se moord gegee word nie en daarom het hy nou onderneem om sy eie soektog na die moordenaars van stapel te stuur.
“My dogter is in die kop en bors geskiet en het in die straat gesterf. Ek glo die moord op my dogter is beplan, want sy is van ’n partytjie af weggelok en toe geskiet,” sê hy.
Volgens Poole is sy dogter weke voor haar dood gedreig dat haar “kop gaan bars” en sy in “haar eie bloed gaan swem”.
“Ek het hierdie inligting aan die polisie bekend gemaak en daar is niks aan die saak gedoen nie. Die aand van my dogter se dood het die skieter nog met die wapen in sy hand verby my vrou gehardloop. Ons weet wie dit is en het al by verskeie geleenthede die polisie verwittig waar die verdagte hom bevind. Hulle doen net niks. As hulle dieselfde dag opgetree het, was die moordenaar al voor Kersfees in die tronk,” sê Poole.
Poole het die verdagte se naam en aliasse aan TygerBurger gegee, maar die naam word eers weerhou totdat hy in hegtenis geneem is en in die hof verskyn het. Volgens hom kan die verdagte met minstens agt ander moorde in die omgewing verbind word.
Poole sê die probleme met dwelmhuise in die omgewing maak jongmense se lewe ondraaglik.
“As jy in een straat bly, mag jy nie tot in ’n ander een beweeg nie, want dit is ’n sekere bende se gebied. Dit is onmenslik om so te lewe. Ek het my nou na die media en sosiale media gewend om my kind se moordenaar op te spoor,” sê hy.
TygerBurger het die Elsiesrivier-polisie om kommentaar genader. ’n Ondersoekbeampte het gesê alle leidrade word opgevolg, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.





