Toe Bheki Cele, die minister van polisie, verlede week die jongste misdaadsyfers – van 1 Julie tot 30 September – bekendgemaak het, het die Mfuleni- en Delft-polisiekantore weer sterk gefigureer, hoewel daar ’n klein daling in sommige misdade was.
In die kategorie vir ernstige misdade is Mfuleni vyfde en Delft 22ste in die land.
Wat kontakmisdade betref, was Mfuleni derde met ’n styging van 24,9% en Delft 12de met ’n 3%-styging.
In die tydperk onder bespreking is net 69 moorde in Delft gepleeg, wat presies dieselfde as die vorige kwartaal is. Dit plaas Delft vierde in hierdie kategorie, met Mfuleni 13de met net 46 moorde –32,2% minder as verlede kwartaal.
Voorvalle van poging tot moord in Delft en Mfuleni het nie gestyg nie, met Mfuleni wat ’n 1%-daling toon. Delft toon ook ’n 6%-daling in seksuele misdade, met Mfuleni wat agt klagtes meer ontvang het.
In die verkragtingskategorie is Delft derde, met 65 mense wat in dié tydperk verkrag is – agt meer as verlede kwartaal.
Suid-Afrika is ’n baie gevaarlike land vir vroue te oordeel aan die 989 vroue wat die afgelope kwartaal vermoor is.
Twaalf uit elke 100 000 mense is in die kwartaal vermoor.
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het in ’n verklaring gesê daar sal na die data gekyk word, maar wat duidelik uit die jongste misdaadsyfers is, is dat meer voete op die grond nodig is.
“Dit is duidelik dat ons Law Enforcement Advancement Plan (LEAP) ’n verskil maak. Ons het R400 miljoen begroot om seker te maak LEAP-beamptes is meer sigbaar in die gemeenskappe waar die moordsyfer die hoogste is. Ons bly gefokus daarop om die moordsyfer te laat daal en misdaad in die algemeen,” lui Winde se verklaring.
Winde se regering probeer nou reeds ’n geruime tyd om dienste van die polisie na die Wes-Kaapse regering te laat afwentel.
“LEAP bewys wat gedoen kan word as die polisie onder ’n vaardige regering bestuur word,” sê hy.





