Monte Vista-inwoner verteenwoordig SA by Jong Aktuarisse Wêreldbeker in Japan

Hannah Giliomee

´n Jong inwoner van Monte Vista verteenwoordig vanjaar haar land by die tweede Jong Aktuarisse Wêreldbeker-kompetisie. Die kompetisie is deur die Internasionale Aktuariële Vereniging bekendgestel en word beskryf as ´n vriendelike wêreldwye kompetisie, oop vir aktuarisse en aspirant-aktuarisse onder die ouderdom van 35 jaar.

Die finale ronde van die kompetisie vind in November by die Internasionale Kongres vir Aktuarisse (IKA) in Tokio, Japan plaas.

Hannah Giliomee, ´n oud-leerder by die Hoërskool Tygerberg en inwoner van Monte Vista, neem hieraan deel.

Voorlegging

“My voorlegging, Flexsurance, is ´n inkomstebeskermingsproduk wat ontwerp is vir lae-inkomste en informele sektorwerkers. Deur die genade van God is ek een van vier finaliste wat wêreldwyd gekies is, en gaan ek my werk by die eindronde in Japan aanbied,” sê sy.

Giliomee gaan in die eindronde teen drie finaliste meeding – Daniel Nkameny (Frankryk), Divyani Mehta (Indië) en Shiela Cruz (VSA).

Die tema van vanjaar se kompetisie is in ooreenstemming met die IKA se tema vir 2026 – tradisie, diversiteit en innovasie.

“Die kongres duur ´n week, maar ek wil graag ´n bietjie ná afloop daarvan saam met my pa deur Japan toer,” sê Giliomee.

TygerBurger het haar gevra hoe dit voel om haar land hier te verteenwoordig.

“Ek is innig dankbaar vir hierdie geleentheid. Dit is werklik deur die Here se genade en voorsiening.

“Ek is passievol oor Suid-Afrika en sy toekoms, en om ons land op ´n internasionale platform te kan verteenwoordig, is ´n groot eer.

“Om Suid-Afrikaanse vaardigheid, innovasie en waardes op ´n wêreldverhoog te vertoon, is iets wat ek nie ligtelik opneem nie,” sê sy.

Sy is ook gevra wat sy hoop om met haar deelname aan die kompetisie te bereik.

“Deur hierdie platform hoop ek om betekenisvolle globale gesprekke te begin, en verder te ondersteun – oor bekostigbare, toeganklike en gepaste risikodekking vir lae-inkomste- en informele sektor-werkers, wat dikwels uitgesluit word van tradisionele versekeringsoplossings.”

Loopbaan

Giliomee werk tans by PwC.

“Ons span bied aktuariële konsultasie oor alle tradisionele aktuariële velde, terwyl ons ook in nie-tradisionele gebiede soos data-analise, kunsmatige intelligensie, masjienleer en digitale oplossingsontwikkeling werk.”

Giliomee werk voltyds in lewensversekering en is al meer as vyf haar by PwC.

“Ek werk saam met ´n ongelooflik talentvolle, kreatiewe en dinamiese span en beskou dit steeds as ´n voorreg om daar te kan werk,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article