Monique Rockman FOTO: gaia film


Monique Rockman, ’n Suid-Afrikaanse aktrise wat drama gestudeer het aan die Northlink-kollege se Tygerberg-kampus, is tans te sien in die hoofrol van Gaia.

Dié film het verskeie toekennings by die onlangse 10de kykNET Silwerskerm-filmfees losgeslaan. Die toekenningsgeleentheid is in Maart aangebied.

Monique, wat al meer as 10 jaar in die Kaap woon, is op Riversdal gebore en het op Albertinia grootgeword. Sy vertolk die rol van Gabi, ’n boswagter.

“Dit was interessant om in die natuur te skiet. Die uitdaging was dat Covid-19 gedurende die verfilming gebeur het, en dat ek terselfdertyd ’n A-storielyn in Suidooster, ’n sepie, in die Kaap geskiet het,” vertel sy.

Monique sê sy was nog altyd lief daarvoor om na films te kyk. “Toe ek eendag as kind Tussen Duiwels en Onder Engele kyk en sien dat bruinmense ook op die televisie kan wees, het ek begin droom,” sê sy.

Sy is oorstelp oor die film se toekennings. Die toekennings sluit in onder meer beste speelfilm en beste regisseur.

“Om vereer te word by die Silwerskerm-filmfees was ’n groot eer. Veral omdat ek benoem is tussen bekendes soos Vinette Ebrahim en June van Merch. Dit maak my verskriklik trots en ook baie humble.”

As ’n jong aktrise het sy nog reuseplanne vir die toekoms. “Ek sal graag nog talle films wil maak, en ook skryf en as regisseur wil werk.”

Buiten Gaia en Suidooster was Monique ook reeds te sien in films en dramas soos Nommer 37, Die Smaak van Saffraan, Late Bloomer, The Riviera, Sarah se Geheim, Die Spreeus, Onder die Suiderkruis en Binnelanders.

Gaia is op DStv Box Office te sien. Die film is vervaardig deur Jaco Bouwer (regisseur), Tertius Kapp en Jorrie van der Walt.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article