Die afgelope meer as tien jaar het iets merkwaardigs op godsdienstige vlak in Kuilsrivier gebeur.

Die NG kerk Digtebij in Sarepta is ‘n ou, gevestigde gemeente. Sowat tien jaar gelede het plaaslike lidmate van die Morawiese kerk besluit om hier ‘n gemeente te stig. Hulle moes van bakboord tot stuurboord soek na ‘n geskikte plek van aanbidding.

Gesprekke is gevoer met die NG kerk Digtebij en sonder om te twyfel het die destydse leraar, ds. Herman Burger, en sy kerkraad ‘n hand van vriendskap uitgesteek. Hulle het ingestem om vroeër met hul diens te begin sodat die Morawiese gemeente daarna die geriewe kon gebruik. Dit het uitstekend gewerk en sake het vlot verloop.

Die Morawiese gemeente het bestendig gegroei. Ongelukkig was dit nie die geval met die NG-gemeente nie, wat uiteindelik hul standplaas moes opgee. Dit het aan die Morawiese gemeente die kans gebied om die kerkgebou oor te koop. Dit was egter nie maklik nie – hulle is ‘n klein groepie en moes noodgedwonge ‘n groot banklening bekom.

Op Sondag 14 September was daar groot blydskap toe die leraar, eerw. Abrahams, aangekondig het dat die kerkeiendom nou aan die Morawiese gemeente behoort. Die droom het waar geword. Die Digtebij-gemeente benut steeds die fasiliteite as deel van ‘n besonderse ooreenkoms tussen die twee gemeentes.

Verlede jaar op Erfenisdag het daar ook iets besonders in Genadendal gebeur: Die NG Kerk het verskoning gevra vir die wyse waarop hulle destyds die werk van die Morawiese sendeling, Georg Schmidt, onder die inheemse mense in die wiele gery het. Schmidt is terug Duitsland toe. Tog het die werk voortgegaan, en plekke soos Genadendal, Wupperthal, Mamre en Elim het tot stand gekom.

Inwoner, Kuilsrivier

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article