The Parow police station in Arnold Wilhelm Street in Parow.
The Parow police station in Arnold Wilhelm Street in Parow. Credit: Richard Roberts

Die polisie se jongste misdaadstatistieke is onlangs bekend gemaak, en volgens dié jongste syfers is vier moorde in die eerste drie maande van vanjaar in Parow gepleeg.

Die statistieke dek die periode van Januarie tot Maart. Luidens die statistieke is drie moorde verlede jaar oor dieselfde tydperk in dié gebied gepleeg. In die drie-maande periode van 2025 is daar ook vyf gevalle van poging tot moord aangemeld.

Die statitieke is op Vrydag 23 Mei deur minister Senzo Mchunu in Pretoria bekend gemaak.

Altesame 13 gevalle van seksuele oortreding – wat verkragting, seksuele aanranding, poging tot seksuele oortreding en ander seksuele oortredings insluit – is van Januarie tot Maart aangemeld.

Die syfer is effe hoër as die vorige jaar se syfer toe nege gevalle eengemeld is. Agt van die 13 gevalle vanjaar was verkragting en vier daarvan seksuele aanranding.

Roof is egter die mees algemene misdaad in Parow. Luidens die statistieke is daar vanjaar 90 gevalle van roof met verswarende omstandighede tydens Januarie en Maart aangemeld, en altesame 56 gevalle wat verband hou met algemene roof.

Aanranding is nog ‘n euwel wat hier hoogty vier. Luidens die statistieke is daar 23 gevalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer aangemeld en 83 gevalle van algemene aanranding.

Altesame agt huisrooftogte is aangemeld en 62 gevalle van huisbrake in die drie-maande-periode vanjaar in Parow.

Motorverwante misdaad toon ook hoë syfers. Luidens die jongste statistieke is altesame 39 motors en motorfietse gesteel, en daar is 128 gevalle aangemeld wat verband hou met diefstal vanuit voertuie. Net drie gevalle van motorkaping is aangemeld van Januarie tot Maart.

Dwelmverwante misdaad is ook hoog. Altesame 257 sulke gevalle is in die eerste drie maande van die jaar aangemeld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article