Bekommerde ouers het Donderdagmiddag voor die Eersterivier Sekondêre skool saamgedrom om hul kinders te kom haal nadat twee leerders glo mekaar op die skoolterrein aangeval en gesteek het.
Die provinsiale polisiewoordvoerder, sers. Wesley Twigg, het die voorval bevestig.
“Die Kleinvlei-polisie is steeds op die toneel by die skool in Beverley-straat. Voorlopige verslae dui daarop dat twee leerders mekaar gesteek het en dat albei met ernstige beserings na ‘n mediese fasiliteit geneem is. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek, maar intussen is twee sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer by die polisie aanhangig gemaak,” sê Twigg.
Onderwysdepartement
Volgens Bronagh Hammond, woordvoerder vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, het ‘n graad 9- en ‘n graad 12-leerder tydens die oggendbyeenkoms in ‘n stryery betrokke geraak, wat tot die stekery gelei het.
“Die polisie is ontbied en dissiplinêre aksie sal deur die skool teen die betrokke leerders ingestel word,” sê Hammond.
Met TygerBurger se besoek aan die skool het honderde ouers buite die skool saamgedrom om hul kinders te kom haal. Die polisie en wetstoepassers was op die toneel om die situasie te monitor.
Hierdie is ‘n ontwikkelende storie.





