Die suster van ’n tiener wat verlede week skielik dood is, sê sy sal hom altyd as haar “gelukkige broer” onthou.
Die 17-jarige Jean-Pierre (JP) Hartzenberg van Kraaifontein is verlede Maandag oorlede nadat hy die vorige oggend begin siek voel het.
“Dit was verskriklik skielik,” sê Candice (24), sy suster.
“Soos ’n oogknip. Hy was die vorige dag nog fine”.
JP, wat ’n leerder aan die Vaardigheidskool Westcliff in Bellville was, is oornag oorlede nadat hy die vorige oggend met ’n hoofpyn wakker geword het.
Die gesin het almal gedink JP het dalk griep toe hy die Sondagoggend van erge hoofpyn kla.
“Toe drink hy pynpille of iets, maar die koppyn wil nie weggaan nie,” sê Candice.
Sy toestand het gou verswak. Die res van sy liggaam het begin pyn en hy het gesê sy nek en bene is seer. JP het ook in daardie stadium begin opgooi.
Candice sê daar het skielik ’n uitslag soos “’n rooi vlammekol” op sy hele lyf uitgeslaan.
Die gesin, wat in Wallacedene bly, het hom laatmiddag na die daghospitaal gevat. Die dokter het gesê hy vermoed JP het breinvliesontsteking en het hulle na die Tygerberg-hospitaal gestuur.
“Dis daar waar hy dit nie gemaak het nie,” sê Candice sag.
Hy is die oggend net na 02:00 oorlede.
Die dokter het glo aan die gesin gesê hy het óf breinvliesontsteking gehad óf ’n aartjie in sy brein het gebars.
In baie se harte
Sy gesin sukkel baie met sy dood. “Ek sal hom verskriklik mis,” sê Candice.
“Dat ons so praat en dat ons lag in die huis.”
Hy kon soms bietjie kort van draad wees. “Maar hy was ’n mense-mens wat in baie se harte geklim het.”
Hy het baie daarvan gehou om sokker te speel, maar het nie spesifieke toekomsdrome gehad nie.
“Hy het net gesê hy wil ’n ordentlike werk hê sodat hy na homself en sy ma kan kyk. Hy was haar enigste seuntjie.”
Anne, sy ma, was te emosioneel om met die media te praat.
“Ek wil hê mense, vriende, familie moet hom onthou vir die persoon wat hy was. Vir die goeie dinge,” sê Candice.
JP se begrafnisdiens word hierdie komende naweek gehou.
Die skool het in ’n huldeblyk gesê hulle sal JP altyd vir sy glimlag, uithouvermoë en sokkervaardighede onthou.
“Hy sal baie gemis word.”
Buiten sy ma, Anne, en suster, Candice, word hy ook oorleef deur nog twee susters, Alicia (14) en Duanay (10).





