Ek het een keer gelees iemand skryf “geseënd is die mense wat bome plant in watter skaduwee hulle nie verwag om te sit nie”.
Met die algemene verkiesing vandag het ek weer gedink aan die uitdrukking. As ons vandag ons kruisies trek, gaan ons bome plant vir ons kinders en hul nageslag. Ons gaan besluite maak wat hul toekoms gaan raak.
Ons gaan oeste saai wat ons dalk nie gaan oes nie, maar dis oraait. Solank ons kinders dit kan oes.
Dertig jaar gelede was ek ’n tiener toe die eerste demokratiese verkiesing plaasgevind het. In die opbou na die verkiesing kon jy nêrens gaan sonder om gesprekke oor die verkiesing te hoor nie – by die skool, in die kerk en by die winkels. Daar was nie wegkruipplek nie.
Daar was opgewondenheid vir die toekoms, maar daar was ook vrese oor die onbekende nuwe wêreld wat wag. Wat sou die demokrasie bied? Was die land gereed vir so ’n groot stap?
Ons het nou dertig jaar van demokrasie en hoewel baie dinge ten goede verbeter het, is daar soveel goed wat ten gronde gegaan het. Ons land is die mees misdadige in die wêreld. Ons openbare gesondheidstelsels is verwoes en korrupsie is aan die orde van die dag. Waar jy kyk hang die stank van armoede en verval. Daar is nie werk vir diegene wat wil werk nie. Ons vroue en kinders moet bang wees as hulle op straat is, maar meer nog in hul eie huise.
Hierdie is goed wat ons as volwassenes dadelik raak, maar meer nog is dit goed wat die toekoms van ons kinders raak.
Kinders het nie stemreg nie, dus is dit ons as ouers se plig om keuses te maak wat nie net op die hier en die nou fokus nie, maar ook op hul toekoms.
As ons nie namens hulle ’n verskil maak nie, wie gaan? Ons is verantwoordelik vir ons kinders se toekoms.
Kan Suid-Afrika nog gered word, wonder ons. Daarop antwoord ek onomwonde ja, want al is daar soveel wat die land ten gronde wil sien gaan, wil die meerderheid Suid-Afrikaners die land sien werk. Miskien kyk ek dalk te veel na die glas as half vol, maar ek glo regtig daarin dat hierdie wonderlike land meer goeie mense as slegtes het. Dat hier meer bouers as afbrekers is. Dat as elkeen sy of haar bietjie doen – baksteen vir baksteen, en stem vir stem – kan ons die land weer opbou.
Baie instansies is tot op die grond afgebreek, maar ek glo dat as ons wat die blink kant sien, saamstaan en saamwerk dat ons dinge weer kan laat werk. Dat ons nie ander kant toe kyk terwyl ons land brand nie.
En dit begin vandag by die stembus. Om te kan stem, is een van die magtigste wapens. As dit nie so was nie, sou duisende mense nie hul lewens verloor het om daarvoor te veg nie. Moet nooit dink dat jou stem te gering is om ’n verskil te maak nie, want een druppel kan ’n emmer laat oorloop. Jou stem tel en solank dit tel het jy die mag in jou hande.
Staan op, gaan stem en gooi sommer iets op die kole in afwagting op nuwe dinge.
Kom ons gaan plant daardie bome waaronder ons dalk nie gaan sit nie of waarvan ons die vrugte nie sal eet nie.
Kom ons gaan doen dit vir ons kinders





