Op Saterdag 21 September trou ek met die liefde van my lewe. Die mooiste troue wat daar al ooit was, al moet ek self so sê.

Nes ek dit vir myself ingedink het.

Ek stap saam met my pa in die paadjie af met “See what the Lord has done” in die agtergrond.

’n Droom is bewaarheid, ’n vloek oor generasies heen gebreek. Ek trou sonder buite-egtelike kinders, met ’n man wat nog nooit sy hand of stem vir my gelig het nie. Ons gaan ook nie agter by my ma-hulle op die jaart bly nie.

Ek het twee grade agter my naam en is tans besig met my meestersgraad. Iets wat ons families nie ken nie. Nie een van my broers of my susters het dit al ooit op hierdie manier gedoen nie.

Nog nooit het my pa ’n dogter kansel toe gestap of my ma saam in die vreugde van haar dogter se trourok koop kon deel nie.

Die vloek oor generasies heen is inderdaad gebreek. ’n Nuwe seisoen het vir ons almal aangebreek. Geen tienerswangerskap soos met beide my susters nie. Geen dwelmmisbruik soos met my broer nie. Dit het baie gebed, wilskrag en deursettingsvermoë geneem om tot hier te kom.

En net soos dit, is ek nou ’n getroude vrou. Met ’n man om na om te sien.

Met ’n huis van my eie, waar ek self kan besluit wat ons gaan eet en op my eie manier kan gaarmaak.

Ek is versot daarop om my eie ruimte met my mens te deel en om ons hoofstuk saam te begin. Met niemand wat ons sê hoe en wat en waar nie, ons doen dit op ons manier soos dit vir ons pas en reg voel. Maar ek kan dan net nie gewoond raak aan my nuwe van nie.

Ek is gebore en was vir die afgelope 27 jaar Jo Elzette Sekepane. Ek loop met my kop omhoog, want ek het daardie naam gebou tot wat dit vandag is.

Ek is trots op Jo Sekepane en alles wat daardie naam bereik het.

En skielik is ek nie meer Jo Sekepane nie. Ek is Jo Elzette Fourie.

Wie is Jo Elzette Fourie? Wat het sy al bereik?

Ek sukkel om aan te pas by my nuwe van. Ek skryf nog onder Sekepane. My van op Facebook is nog dieselfde, so ook op al my ander sosiale media-platforms.

Om te laat gaan, is toe nie so maklik nie. Maar tog, met hierdie rubriek sal ek begin as Fourie.

Mag Jo Fourie sterk wees, en ’n bekende naam word waarna ander kan opkyk. ’n Boom wat skuiling gee aan ander.

Opreg, eerlik en met integriteit.

Ek kom besef opnuut die wilskrag wat dit vat om ’n vrou te wees – om veerkragtig te wees.

Jy verlaat jou ouerhuis, verander jou identiteit en hoewel dit vir jou so moeilik is, doen jy dit met soveel grasie en ’n glimlag.

Jy het die wonderlikste tyd totdat jy ’n bespreking maak en besef jy het dit nou net onder jou nooiensvan gedoen.

Of jy moet vir iets onderteken en jou handtekening het nog nie verander nie.

Maar met hierdie rubriek sal ek begin.

Ek troos my daaraan toe dat Jo Fourie darem nie van die grond af op begin nie.

Sy is voorafgegaan deur ’n sterk Jo Sekepane, wat al baie dinge in die lewe moes deurmaak en het ná elke keer nog net bo uitgekom.

Sy het gevegte geveg wat die lewe van Jo Fourie nou soveel makliker sal maak. Maar hoe laat gaan ’n mens? Ek geniet elke aspek van getroud wees, behalwe my van. Skielik, dan wonder ek wie ek is.

Maar met hierdie rubriek sal ek begin.

Hallo almal, ek is Jo Fourie. – Jo Fourie

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article