Sers. Andries Binedell van die Kuilsrivier-polisie se eenheid vir vermiste mense.FOTO: Carina Roux


Vier mense wat aan die begin van Julie by sers. Andries Binedell van die Kuilsrivier-polisie se eenheid vir vermiste mense aangemeld is, is almal binne ’n dag of twee ná aanmelding opgespoor.

Binedell sê dié sukses is grootliks te danke daaraan dat die gemeenskap dit betyds aangemeld het, asook die goeie kommunikasienetwerk wat die eenheid in plek het met die buurtwagte, sekerheidsmaatskappye sowel as die hospitale.

Hy sê baie mense is ongelukkig onder die wanindruk dat daar ’n wagperiode van 24 tot 48 uur is voordat iemand as vermis aangemeld kan word.

“Daar is geen tyd aan verbonde nie. Hoe langer dit neem voor die aangemeld word, hoe moeiliker raak dit om die vermiste op te spoor,” sê Binedell.

Wanneer iemand as vermis aangemeld word, is dit belangrik om ’n onlangse foto en die selfoonnommer (as die vermiste ’n foon het) aan die polisie te verskaf. Meld ook of die persoon aan enige sielkundige of mediese toestande ly en of daar moontlik enige omstandighede (soos gesinsgeweld of ’n stryery) was wat tot die verdwyning kon aanleiding gegee het.

Daar is ’n aantal organisasies wat help om vermistes op te spoor, soos Pink Ladies, Missing Children SA, Western Cape Missing Persons Unit en ’n nuwe groep, SA Lost or Found, wat almal op Facebook is.

Bel sers. Binedell by 079 894 1561 met navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article