Niamh Smith

Credit: SYSTEM

Vier jaar gelede was sy net ’n kind wat ’n nuwe begin in ’n nuwe land moes maak.

Dit was koud, groen, Engels en anders in hul nuwe tuiste in Ierland, maar Niamh Smith (nou 12) het gou ’n veilige hawe en groot liefde in sang ontdek.

En kort voor lank het sy sommer ingespring om ander ook met haar talent by te staan.

Dit is ’n baie suksesvolle paar jaar vir Niamh (uitgespreek Neave), wat al in vele kompetisies uitgeblink het en al op verskeie TV-programme opgetree het.

En nou het Niamh ook onlangs vir die eerste keer ’n Afrikaanse liedjie, ‘Klein Tambotieboom’ deur die Heuwels Fantasties, by ’n Suid-Afrikaanse byeenkoms gesing.

Sy het ook ’n projek begin om met behulp van haar weergawe van hierdie liedjie geld vir Make-a-Wish Ierland in te samel.

“Ek wil graag my sang gebruik om ’n lig te skyn op die mense en dinge waarvoor ek lief is en wat saak maak. Dis waarom ek die ‘Shine from within’-projek saam met Make-a-Wish Ireland begin het,” sê sy. Make-a-wish is ’n organisasie wat geld insamel om die drome te bewaarheid van kinders wat aan lewensbedreigende siektes ly.

“Die idee is dat as jy my musiek geniet, jy ’n donasie aan die organisasie maak.”

Haar weergawe van ‘Klein Tambotieboom’ kan ten bate van die organisasie gestroom word.

Sy is besonder trots daarop dat Pierre Greeff van die groep self sy ondersteuning daarvoor gegee het en ’n video vir haar gemaak het om haar aan te moedig.

Die Heuwels Fantasties toer vanjaar na Ierland, waar hulle gereël het om haar ook gou te ontmoet.

Haar ma, Alda, het besef sy het talent toe sy agt of nege was. “(Dit was) kort voor ons Ierland toe verhuis het,” sê sy.

“Ek het by ’n maatjie se huis karaoke gesing en die maatjie se mamma het vir my ma gesê ek moet sanglesse neem.”

Vriendelike petroljoggies

Die gesin het destyds in Bellville gebly, waar sy ’n leerder aan die Laerskool Welgemoed was.

Sy het juis die liedjie gesing omdat dit haar aan grootwordjare in Suid-Afrika laat dink het. Sy mis baie goed van die land: Die skole en vriende waar sy was; die ‘Toy Factory Shop’ in Voortrekkerweg; die voer van diere by Stodels; Wimpy-eet by Tygervallei; die vriendelike petroljoggies by die vulstasie (daar is nie petroljoggies nie); die tannie wat haar kralekuns langs die pad verkoop; lekker tye saam met haar nefies, niggies, oumas en oupas.

Haar ouers, Johann, ’n kubersekerheidskundige en Alda, wat mediese leer en ontwikkeling in die farmaseutiese bedryf lei, en haar broers, Jesse (15) en Néo (10), is ook almal musikaal. Jesse het, soos sy, SA-kleure vir uitvoerende kunste ontvang, maar ook die Afrikaanse eisteddfod-beker vir musiekteater in 2021 gewen (waaraan hy weens Covid vanuit Ierland kon deelneem).

Niamh self het nog baie wat binnekort plaasvind. “Ek neem later die somer (dit is tans somer daar) deel aan die uitdunne vir ’n gesogte musiekprogram, maar ek kan nog nie meer oor dit vertel nie.”

Sy gaan ook ’n Kersliedjie ten gunste van Make-a-Wish vrystel. “Ek wil ook graag nog ’n Afrikaanse liedjie sing, maar ek begin in September met hoërskool hier, so ek sal maar sien of ek tyd kry.”

Besoek @niamhbeatrix op Instagram of @NiamhBSmith op Facebook vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article