Meer as ’n miljard rand se huise kan nie voltooi word nie weens geweld en afdreiging

Foto: Pixabay


Meer as ’n miljard se behuisingsontwikkeling is in die gedrag as die sogenaamde konstruksie-mafia nie gekeer word nie.

Só sê Malusi Booi, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir behuising. Booi het Saterdag ’n sespuntplan bekend gestel om die Stad se projekte te beskerm.

Luidens Booi se verklaring word kontrakteurs al hoe meer geteiken deur kriminele, afpersers en selfs gemeenskapslede.

“Daar is ontwrigting en soms geweld. Ons departement het projekte ter waarde van R2,8 miljoen aan die gang en die Stad sal alles in sy vermoë doen om hierdie projekte te beskerm en aan die regmatige begunstigdes te verskaf,” sê Booi.

Volgens hom kan die projekte net beskerm word as die polisie hul samewerking gee.

“Daar is tans 12 projekte waarby 4 500 mense kan baatvind, wat bedreig word. Groter aksie is nodig, maar gemeenskappe moet ook saamwerk om hierdie projekte klaar te kry. Sonder die gemeenskap sal dit nie klaar kom nie,” sê Booi.

Die plan sluit in om nouer saam met die polisie te werk, asook R15 miljoen in bykomende fondse beskikbaar te maak om veiligheid van projekte te verseker.

Verder sal meer sake deur die polisie ondersoek moet word

’n Beloning van R 5000 is uitgereik vir die persoon wat inligting verskaf wat tot ’n inhegtenisneming lei.

Meer wetstoepassingsbeamptes moet op persele geplaas word en ’n beroep is op die gemeenskap gedoen om nouer saam met die Stad te werk.

Net in een week is ’n projek ter waarde van R500 miljoen, die Delft Symphony Way-projek, twee keer geteiken.

“Eers is daar op kontrakteurs geskiet en kort daarna is petrolbomme gegooi. Hierdie projek gaan die lewens van 3 300 mense verander. Verlede jaar moes ons ’n projek van R140 miljoen kanselleer weens die probleme wat ons ondervind het,” sê Booi.

Charles George, gemeenskapsaktivis, sê die aanvalle op die behuisingsprojekte getuig van ’n groter probleem in Delft.

“Hier heers ’n wetteloosheid in Delft. Elke man maak net soos hy wil. Hierdie behuisingsprojekte kan mense se lewens verander, maar die vrot appels maak dit vir almal moeilik,” sê George.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article