Media ‘n blik gegee oor wat chirurge doen tydens toer van hospitale

Dr. Pieter Spies spreek lede van die media toe, voordat hulle by die teater ingelaat is.

Kaylynne Bantom

Lede van die media is Woensdagoggend die kans gegun om eerstehands te aanskou hoe dokters in die teater te werk gaan.

Drie tersiêre hospitale, die Tygerberg- en Groote Schuur-hospitaal, asook die Rooi Kruis-kinderhospitaal, het die oggend hul deure oopgemaak met die doel om hul chirurgiese uitnemendheid te vertoon.

Joernaliste kon aanskou wat ‘n tipiese dag in die lewe van ‘n chirurg behels. Die chirurge het verduidelik watter tipes operasies by hul hospitale uitgevoer word, hoekom hulle oor hul beroep passievol is en ook vertel watter gevalle hulle die meeste bybly.

By die Tygerberg-hospitaal het dr. Pieter Spies (41) , ‘n uroloog, die media toegespreek.

Spies en sy span was die oggend besig om ‘n pasiënt wat aan prostaatkanker ly, te opereer. Joernaliste kon sien hoe Spies met behulp van ‘n robot die 60-jarige pasiënt opereer en sorgvuldig ‘n klier verwyder.

By die Groote Schuur-hospitaal het dr. Alana Heynes, ‘n algemene praktisyn, die media te woord gestaan en by die Rooi Kruis-kinderhospitaal is hulle deur dr. Thozama Siyotula, ook ‘n algemene praktisyn, by die teater begelei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article