Jean-Luc Olivier (agter) is hier met sy gesin, sy pa Eugene, sy ma Sandra en broer Emile gedurende Kersfees verlede jaar.
Jean-Luc Olivier (agter) is hier met sy gesin, sy pa Eugene, sy ma Sandra en broer Emile gedurende Kersfees verlede jaar. Foto: Facebook

KAAPSTAD – Medelye stroom steeds in op Facebook en ander sosiale media nadat ‘n 18-jarige skoolseun verlede naweek op slag dood is toe sy motorfiets in Brackenfell teen ‘n bakkie gebots het — kort nadat sy ma óók in ‘n motorongeluk in Kenridge was en in die hoësorgeenheid van ‘n hospitaal behandel is.

Die botsing waarin Jean-Luc Olivier, ‘n matriekleerder van die Hoërskool Durbanville noodlottig beseer is, het Sondag 1 Maart omstreeks 14:10 op die hoek van Jakarandastraat en Bottelaryweg in Brackenfell plaasgevind — glo ten aanskoue van ‘n vriend.

Volgens paramedici is hy met dodelike beserings op die ongelukstoneel aangetref.

Die ongelukstoneel in Bottelaryweg waar Jean-Luc Olivier op slag dood is.
Die ongelukstoneel in Bottelaryweg waar Jean-Luc Olivier op slag dood is. Foto: Facebook

“Daar was niks wat ons vir hom kon doen nie, en hy is op die toneel dood verklaar,” sê Kobus Kotze, ‘n paramedikus en woordvoerder vir Titanium Securitas.

U-draai oor dubbele sperstreep

Volgens inligting op die toneel het die vroulike bestuurder van die Toyota-bakkie ‘n U-draai oor ‘n dubbele sperstreep in Bottelaryweg gemaak toe die motorfiets, wat uit die rigting van Kuilsrivier gery het, teen die bakkie se regtervoorkant gebots het.

Die Brackenfell-polisie het bevestig dat ‘n saak van strafbare manslag geopen is.

Die ma van die oorledene, Jean-Luc Olivier, was twee dae voor die noodlottige ongeluk self betrokke in 'n botsing in Kenridge. Foto: WC Live Traffic & Safety Alerts/Facebook
Die ma van die oorledene, Jean-Luc Olivier, was twee dae voor die noodlottige ongeluk self betrokke in ‘n botsing in Kenridge. Foto: WC Live Traffic & Safety Alerts/Facebook

Sy ma, Sandra Olivier, was ten tyde van die ongeluk in die hoësorgeenheid van ‘n hospitaal nadat sy twee dae tevore, op Vrydag 27 Februarie, om 23:55 in ‘n botsing met ‘n taxi by die kruising van Van Riebeeckhof-weg en Tygerbergvalleiweg in Kenridge betrokke was. Volgens ‘n inskrywing op Facebook deur haar man, Eugene, het ‘n omstander op die ongelukstoneel, wat by ‘n rooi verkeerslig gewag het, aan hom gesê dat die taxibestuurder oor die rooi verkeerslig gery en in sy vrou se motor vasgery het. Hy het versoek dat die omstander met hom kontak maak.

Vriend aanskou glo ongeluk

‘n Man het in Facebook-kommentaar aangedui dat hy tweede op die ongelukstoneel was en dat hy en die ander man op die toneel nie veel kon doen nie, buiten om verbygaande motoriste wat video’s van die ongelukstoneel wou neem, te keer.

“My hart was gebroke toe ek met ‘n jong man (op die ongelukstoneel) gepraat het, wat gesê het hy was sy vriend en het als sien gebeur. Ek is so hartseer vir hom. Ek was oorweldig met liefde vir sy familie, sy meisie en sy vriend wat langs my gestaan en wag het op die nooddienste om op te daag,” het hy geskryf.

Verskeie hoër- en laerskole in Durbanville en Bellville het hul medelye op Facebook met die Olivier-gesin betoon — onder meer die Laerskool Kenridge, waar Jean-Luc op laerskool was, en DF Akademie, waar sy broer, Emile, in 2024 gematrikuleer het.

“Ons is diep bedroef oor die tragiese verlies van ‘n belowende jong lewe. Die Hoërskool Durbanville-gemeenskap is in ons gedagtes in hierdie hartverskeurende tyd. Die Laerskool Kenridge-familie stuur hiermee ons innige simpatie en meegevoel aan Jean-Luc se familie, vriende, onderwysers en klasmaats. Geen woorde kan die pyn van so ‘n verlies werklik verlig nie, maar weet asseblief dat julle in ons gebede is terwyl julle omring word deur liefde en ondersteuning,” lui die inskrywing op die Laerskool Kenridge se Facebookblad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article