Die Tygerberg-dienssentrum vir Seniors, ook bekend as Meals on Wheels, in Parow het op Dinsdag 12 Julie tien bokse met 12 pakke Weet-Bix aan die Van der Stel-Evergreens (VDE)-rugbyklub in Stellenbosch geskenk.
Dit is om te verseker die juniors kry voor hul wedstryde ’n voedsame ontbyt.
“Ek het verneem dat VDE se drie junior spanne elke Saterdag in die junior liga speel, en die eerste wedstryd word om 09:00 gespeel. Die drie spanne is o.10, 0.14 en o.16 en as jy nou na die tye kyk wat die o.10’s speel, beteken dit dat die spelers al van 06:30 op ’n Saterdagoggend op die verskillende plase in en om Stellenbosch en in Eersterivier vir hul wedstryde opgelaai word.
“Baie het seker nie eens kans gekry om ontbyt te eet nie en hopelik sal die skenking help dat wanneer hulle by die klubhuis aankom, daar darem iets is om te eet. VDE se eerste en tweede spanne het ook die Noordelike liga van die WP-Rugbyunie gewen, en nou is ons saam met hulle wenners,” sê Anne-Marie Watt, bestuurder van die dienssentrum.
Sy het ook speletjies aan die klub geskenk sodat die kinders ná tuiswedstryde hulself daarmee kan besig hou, terwyl die wedstrydformaliteite deur hul ouers afgehandel word.
“Die nood is hoog oral waar Meals on Wheels betrokke is, en ons ontbytskenking is maar ’n druppel aan die emmer, maar dis darem iets.
“Van VDE se spelers woon nie almal in en om Stellenbosch nie; daar is van hulle wat van Kraaifontein en Klapmuts kom en die spelers het onderneem om by skole in die omgewing ook ’n skenking namens die klub in Kraaifontein en Klapmuts te maak,” sê Watt.





