‘n Inwoner van Melkbosstrand – ook ’n vrywilliger by die plaaslike ambulansdiens Community Medics en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), wat langs die Atlantiese kus diens verrig, vertel dat hoewel sy lief vir Suid-Afrika is, haar hart by haar tweede tuiste in Mauritius is.
Marnette Meyer, wat ’n filmproduksiemaatskappy in die Kaap bedryf het, sê sy het verlief geraak op dié eiland in die middel van die Indiese Oseaan.
Sy en haar man pendel in dié stadium heen en weer tussen Suid-Afrika en Mauritius, vertel sy.
“Ons gaan drie keer per jaar Mauritius toe, maar ons spandeer dan tussen twee en drie maande op ’n slag daar. Die lekker is dat dit vyf ure se vlieg is direk Kaap toe.
“Dit is ook hoekom ons op Mauritius besluit het, en nie ’n ander land nie.
“Mauritius is naby genoeg om nou terug te vlieg Suid-Afrika toe as daar ’n probleem is by ons werk hier,” vertel sy.
Hoewel hulle nou deel is van Mauritius en sy mense, pendel die egpaar op en af omdat hulle hul besigheid hier het, en nog twee eiendomme, sê Meyer.
Meyer het vertel dat hulle tydens een van hul reise op dié eiland afgekom het.
“Ons het verlief geraak op die eiland toe ons een jaar van Duitsland af terug Suid-Afrika toe ’n ‘pit stop’ gemaak het in Mauritius en toe twee weke daar spandeer het.
“Dis omtrent al agt jaar gelede en nou spandeer ons soveel tyd moontlik op die eiland. Mauritius het vir ons nou ’n tweede huis geword. Ons het meer vriende op die eiland as hier in Suid Afrika,” skerts sy.
Die eiland is ook die plek waar Meyer en haar man hul afgetrede lewe wil deurbring.
“Ons het ’n plek gesoek om af te tree as die tyd nader kom. Mauritius het vir ons die voordele gebied.
“Ons het dadelik werk daarvan gemaak deur middel van ’n vriend in Mauritius en sy vrou, wie se werk dit is om ‘expats’ te help om ’n Mauritius-burger te word.”
TygerBurger wou ook weet hoe die eiland van Suid-Afrika verskil.
“Die eiland is klein en jy ry hom in ’n dag se tyd deur, maar die veiligheid is vir ons almal belangrik.
“Waar los jy jou restaurant met groot platskerm-TV-stelle oop deur die nag en gaan huis toe en verwag môreoggend sal alles nog daar wees? In Suid-Afrika sou hulle dit al gesteel het.
“In Mauritius kan ek my geloof beoefen sonder dat iemand my oordeel. Moslems en Hindoes se kerke is reg langs mekaar en hulle respekteer mekaar.
“Belastingsgewys spaar ons baie en jy weet waar die geld heen gaan. Kospryse is laer en dan kom dit nog boonop van Suid-Afrika af. Ons kan ’n drie-slaapkamerhuis met ’n swembad, ten volle gemeubileerd, by die see teen R24 000 per maand huur.
“Wat mediese sorg betref, het ons eerstehands beleef dat medikasie goedkoper daar is; die hospitaal is vyfster met die beste dokters. Jou apteker is sommer jou dokter ook,” sê Meyer.
Die egpaar het eers langs die strand gewoon, maar het onlangs verhuis na Cape Bay, waar hulle omtrent omring is deur ander Suid-Afrikaners.
Meyer meen die eiland bied hulle soveel meer geleenthede as Suid-Afrika. Misdaad is nie ’n kwessie nie; die weer is heeljaar tropies en die water se temperatuur daal nou en dan met ’n paar grade, maar jy kan steeds watersport geniet, sê sy.
“Die eiland het wonderlike watervalle wat uit die berg uitkom, waar jy kan gaan swem.
“Daar is bote waarmee jy kan uitgaan vir ‘sundowners’ of snorkel, of om vis te gaan vang,” sê sy.
Sy het ook raad vir diegene wat dalk dié verandering wil oorweeg. “My voorstel as jy na Mauritius wil verhuis, is om in te skakel by die Mauritius-kultuur.”
Meyer is steeds betrokke by die ambulansdienste, beide hier in Suid-Afrika, sowel as in Mauritius.
“Ek is ook besig saam met my mede-Suid-Afrikaanse vriende, wat meer permanent op die eiland bly, by die sterilisasie van diere op Mauritius.
“Honde en katte is ’n groot probleem. Daar is vreeslik baie, en al manier om beheer daaroor te neem is om hulle almal te steriliseer.”





