Humor en kos was die tema van ’n vroue-oggend wat Saterdag deur die Tygerberg-sakekamer aangebied is.
Sowat 100 vroue verbonde aan dié sakekamer het die ontbytgeleentheid, geborg deur die Brackenfell-forum en ter viering van Vrouemaand, by die Cuppanotes-koffiewinkel in die Cape Gate-dekorsentrum bygewoon.
Die bekende koskenner en kookboekskrywer Marinda Engelbrecht het die vroue getrakteer met ’n kosdemonstrasie en ’n humoristiese praatjie.
Sy het haar gehoor aan die lag gehad met kwinkslae, en hulle ook laat bepeins oor die waarde van vrouwees.
“Een van die beste oomblikke in jou lewe gebeur as jy die moed bymekaarskraap om jou te bevry van die dinge waaroor jy nie beheer het. Maar wees in beheer waarvan jy kan – jou tyd en jou dagboek,” sê Marinda.
So dikwels moet die hedendaagse vrou almal gelukkig maak in vele rolle as beroepsvrou, ma, eggenote, suster en dogter.
“Dis geen wonder dat jou melk by tye oorkook nie. In die kookkuns is daar maniere om jou melk nie te laat oorkook nie, maar in die lewe van ’n vrou is daar nie sulke maklike oplossings nie, veral nie as jy soveel balle in die lug moet hou nie. Jy moet leer om nee te sê.
“Moenie bang wees om vir mense nee te sê nie, of as jy ja sê en later besef jy moes nee gesê het, of om jou nee na ’n ja te verander nie. Maar dit begin met jouself: as jy vir jouself kan nee sê, kan jy makliker vir ander nee sê. Jy het niks om vir niemand te verduidelik nie,” sê Marinda.
Dis ook jou keuse om die lewe positief of negatief te benader.
“Jy kan lag om te vergeet, of vergeet om te lag. Jou benadering tot die lewe bepaal of jou melk oorkook.”
Marinda het die vroue aangemoedig om elke week iets te doen “wat jou bang maak”, jouself lief te hê en te omring met vriende wat jou lief het.
Sy het die gehoor met dié woorde van Coco Chanel gelaat, “beauty begins when you decide to be yourself”.
“Geniet jou lewe…brand kerse, sit in die son, dra mooi skoene, kyk na die sterre…”
Saamwerk
Sunel Beeselaar, voorsitter van die sakekamer, het die vroue toegespreek.
“Die doel van die sakekamer is om klein en medium besighede saam te laat netwerk in die gemeenskap en tot voordeel van mekaar te ondersteun. As sakevroue of as vroue wat mans bystaan met hul ondernemings, weet ons wat die waarde daarin is om mekaar te ondersteun en te bemagtig.
“Ons vriendinne is ons tribe – omring jouself met fenomenale vroue, nie dié wat skinder en mekaar afbreek nie, maar met dié wat jou aanmoedig en motiveer om jou beste potensiaal te bereik,” sê sy.
Alta van Zyl, voorsitter van die Brackenfell-forum, het die vroue aangemoedig om betrokke te raak by dié forum se projekte, onder meer ’n maandelikse “markie in die parkie”, wat daarop toegespits is om openbare parkies beter te benut en entrepreneurskap aan te wakker.
Sy het die vroue aangemoedig op hul lewenspad.
“Niemand van ons loop altyd op dieselfde pad nie. Dit is soms ’n teerpad, grondpad of bergpas. Ons lewenspaaie is anders, maar ons voetspore is dieselfde,” sê sy.





