Foto ter illustrasie. Foto: Argief


Twee mans wat Donderdag in die vroeë oggendure ’n VW Citi Golf in Zebrastrat in Goedemoed in Durbanville gesteel het deur dit met ’n ander voertuig weg te sleep, het hulle teen die buurtwag se waaksaamheid vasgeloop.

Hul optrede was verdag vir ’n buurtwaglid wat omstreeks 04:00 besig was om die sekerheidskameras te monitor. Sy het dit rapporteer op die radio, wat met ADT se beheerkamer in verbinding is.

ADT se patrolleerders het die verdagte voertuie gevolg en die verdagtes het stilgehou.

Volgens kapt. Marchell Rhode, woordvoerder van die Durbanville-polisie, is hulle ondervra en het dit geblyk hulle het die voertuig gesteel, waarop hulle deur die polisie in hegtenis geneem is.

Die polisie het die vrou wie se kar dit is, gaan wakker klop.

Sy was nog nie bewus dat haar voertuig gesteel is nie, en het gesê sy het dit die vorige aand voor haar woonplek geparkeer.

Die verdagtes, onderskeidelik 34 en 35 jaar oud, het reeds in die Bellville-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article