’n Man het na verwagting vanoggend weer in die Bellville-landdroshof verskyn nadat hy homself glo verlede week aan ’n hoërskoolleerder ontbloot en vir seksuele gunste gevra het.
Die voorval het verlede Dinsdag tussen 18:00 en 18:30 by ’n park in Ridgeworth gebeur.
Volgens die tiener (17) se ma het haar seun eers na die plaaslike winkel gegaan om ’n koeldrank te koop, waarna hy in die park gaan sit het.
“Hy het agtergekom dit lyk of daar ’n kar is wat hom volg, maar dog toe dis ’n ou wat ’n huis soek.”
Hy het by die park, wat naby sy huis is, weer die kar gewaar.
Dié keer het die kar gestop en die tiener nader geroep.
Toe hy daar kom, was die man klaar ontbloot en het hy vir seksuele gunste gevra.
Die tiener het dit reggekry om die man te oortuig om hom na sy huis te agtervolg.
Toe hy daar aankom, het hy egter hard na sy ouers geroep en verduidelik wat gebeur het.
“My man het die kar gegryp en hom gaan konfronteer,” sê sy. Hulle het vir ’n paar sekondes gepraat. Die man het glo onder meer verskoning gevra. “Ek het nader gegaan en gesê ons moet die polisie bel.”
Die man het egter toe ’n gaping gesien en weggejaag.
“My man het gelukkig ’n foto van sy nommerplaat geneem,” sê sy.
Hulle het die plaaslike sekerheidsfirma, District Bassett, genader, wat toe met die Ridgeworth-buurtwag saamgewerk het en die man se adres opgespoor het.
Hulle is dieselfde aand saam met die polisie na sy huis om hom te arresteer.
Tashia de Villiers, ondervoorsitter van die buurtwag, sê die man het eers gemaak of hy nie tuis is nie, maar hulle het toe kinderstemme gehoor, waarna hulle hom forseer het om die deur oop te maak. Die kinders is glo nie syne nie.
Die man is in hegtenis geneem en het Donderdag sy eerste verskyning in die hof gemaak. Hy is aangehou en sou vanoggend om borgtog aansoek doen.
Die TygerBurger kan volgens wet nie sy naam publiseer voordat hy nie gepleit het nie en kan ook nie die minderjarige slagoffer se naam publiseer nie.
Die ma sê sy is nog getraumatiseer.
“Ek het so geruk van skok. Wat kon nie gebeur het nie? Daai ou kon hom maklik in sy kar getrek het. Of omgery het”
Sy sê sy is dankbaar haar seun is ongedeerd. “Maar is hy okei?”
Boonop is dit eksamentyd. “Ek het nie woorde hoe ek hieroor voel nie.
Nêrens veilig’
Sy sê sy is bang om hom weer buitentoe te laat gaan, maar is ook bang om hom binne te hou. “Ons kinders is nêrens meer veilig nie.”
Sy moedig ander slagoffers van seksuele misdrywe aan om daaroor te praat.
“Moenie bang wees nie. Daar is soveel jong mense wat daar buite is wat dink hulle doen iets verkeerd of is skaam daaroor.”
Kapt. Aubrey Morwenyane, woordvoerder van die Bellville-polisie het die saak bevestig en gesê dit word tans ondersoek.





