Rodney Zeeberg lees sy boek terwyl hy dialise ondergaan.


Nie eens dialise kon ’n man van Bishop’s Lavis verhoed om sy boek oor geslagsgeweld te voltooi nie.

Rodney Zeeberg, ’n onderwyser by ’n plaaslike skool en ’n gemeenskapsaktivis, sê hy word daaglikse met geslagsgeweld konfronteer.

“As jy op die Kaapse Vlakte skoolhou, kom baie dinge na jou toe, en geweld teen vroue en kinders is ’n alledaagse verskynsel. Dit grief my diep dat hierdie dinge as vanselfsprekend aanvaar word en ek het nog net my lewe daaraan gewy om die aandag op geslagsgeweld te fokus,” sê Zeeberg.

Volgens Zeeberg het hy oor die jare altyd op sosiale media geskryf oor goed wat die gemeenskap raak, maar sy boek, Slaansak, het lank geneem om voltooi te word.

“Uiteindelik het ek besluit om hierdie boek te skryf om debat te ontketen oor hoekom hierdie goed gebeur. Die boek is fiksie, maar die voorbeeld en gebeure is egte goed wat in ons gemeenskappe gebeur. Dit wil amper vir my voorkom of veral geweld teenoor kinders al hoe meer voorkom. Hoe het ons hier beland? Hoe kan ons as ’n gemeenskap verhoed dat nog kinders soos Courtney Pieters en ander verkrag en vermoor word?” vra Zeeberg.

Hy sê die eerste hoofstukke van die boek is reeds vyftien jaar gelede geskryf.

“’n Mens begin mos maar met ’n ding en dan gebeur die lewe en jy pak dit eers weer weg. Ek het net besef dat ons vroue en kinders nie veilig is nie en het toe besluit om verder te skryf,” sê hy.

Zeeberg is ook betrokke by die organisasie BLAC (Bishop’s Lavis Community).

“Ek was nog altyd ’n gemeenskapsmens en sal alles vir die gemeenskap doen. Ek ly aan nierversaking en moet drie keer per week dialise ondergaan, maar ek sien dit nie as ’n struikelblok nie. As jy iets wil doen, doen jy dit,” sê hy.

Bestel die boek by Zeeberg by 078 722 0828.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article