Hospitaalpasiënte was gisteraand geskok nadat ’n onbekende man met ’n vuurwapen omstreeks 19:00 deur ’n venster van die pediatriese saal by die Mediclinic Durbanville in Wellingtonweg in Durbanville ingeklim het en minstens sewe selfone by pasiënte en vermoedelik ‘n dokter geroof het.
Volgens kapt. Marchell Rhode, woordvoerder van die Durbanville-polisie, was ’n vrou wat haar seun in die hospitaal se pediatriese saal besoek het, besig op haar foon toe die man in die saal by die venster inklim en haar met die vuurwapen gedreig het om die foon te oorhandig. Hy het die foon uit haar hand gegryp.
Hy is daarna ook na ander sale in die hospitaal en het nog ses selfone by pasiënte en vermoedelik ‘n dokter geroof. Hy het deur dieselfde venster gevlug.
Die verdagte is nog nie geïdentifiseer nie, maar daar is videomateriaal beskikbaar wat nog ondersoek word, het Rhode gesê. ’n Klag van sakeroof word ondersoek, het hy gesê.
Die polisie het traumaberading verskaf.





