Shireena Birch se man, Riedewaan Birch, het sy borgtog aansoek laat vaar.
Shireena Birch se man, Riedewaan Birch, het sy borgtog aansoek laat vaar.

Die een is op borgtog vrygelaat, terwyl die ander sy borgtogaansoek laat vaar het.

Dit is die storie van twee vermeende moordenaars wat Woensdag in die hof verskyn het op aanklagte van moord op vroue.

Onderonsie met man

Rushin Abrahams word daarvan beskuldig dat hy Louisa Fansensie op 8 Februarie in Loganberry-straat in Bonteheuwel doodgesteek het, nadat hy in ‘n onderonsie met haar man betrokke was. Fransensie wou glo tussen beide tree, maar is noodlottig gewond.

Gister is borgtog van slegs R1000 aan Abrahams toegestaan, wat tot skok onder familie en verontwaardiging in die breë gemeenskap gelei het. “Dit is egter belangrik om daarop te let dat hy onder streng voorwaardes vrygelaat is, wat onder meer behels dat hy nie naby Bonteheuwel mag kom nie. Terwyl dit nie die uitslag is wat ons verwag het nie, moet ons in ag neem dat daar feite voor die hof geplaas is waarvan die publiek nie kennis dra nie en dit sal deel van die regsproses vorm. Ek doen ‘n beroep op die gemeenskap om die hofsitting op 4 Junie, wanneer hy weer verskyn, by te woon om die familie te ondersteun,” sê Angus McKenzie, plaaslike raadslid.

Laat vaar borgtog

In die ander voorval is Shireena Birch glo op 3 Februarie deur haar man, Redewaan Birch, doodgesteek. Tydens Woensdag se hofverskyning het hy besluit om sy borgtogaansoek te laat vaar en gaan ook weer op 4 Junie in die hof verskyn. McKenzie het die verwikkeling verwelkom. “Ons bly hoopvol dat geregtigheid vir Shireena gaan seëvier,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article